Foto’s: SA wen weer goud by Chelsea-blommeskou

Die Mountains of Abundance-uitstalling.

Kirstenbosch Botaniese Tuin in Kaapstad het weer ʼn goue toekenning gewen vir sy uitstalling by die wêreldbekende Chelsea-blommeskou in Londen.

Die uitstalling getiteld Mountains of Abundance het aan Suid-Afrika sy 37ste goue toekenning by dié gesogte blommeskou besorg.

Die ontwerp van die uitstalling is op 3 April deur die Suid-Afrikaanse Nasionale Biodiversiteitsinstituut onthul. Leon Kluge was die landskapargitek en het tydens die bekendstelling gesê elke plant het ʼn storie om te vertel en dat dit presies is wat hulle by die blommeskou wil doen – stories en unieke eienskappe deel van Suid-Afrika se diverse blommeryk.

Die goue toekenning wat die uitstalling gewen het.

Die uitstalling het ten doel gehad om die manier waarop Suid-Afrika se proteas, aalwyne, disas, restios en fynbos natuurlik voorkom, te herskep. Die plante is vertoon op ’n muur wat drie meter hoog is, wat Tafelberg en die Magaliesberg verteenwoordig.

Plaaslike kultuur is ook deel van die ontwerp. “Ek kry inspirasie nie net van die Ndebele nie, maar al die stamme en ek het dit saamgeweef om ’n kulturele en menslike element by die uitstalling te voeg.”

Hy het ’n Ndebele-hoed gebruik as die bron van ’n rivier wat deur die ontwerp loop en hierdie tema word voortgesit via subtiele patrone op die leisteen, en kralewerk artefakte in die skerm. “’n Tuin het beweging nodig om dit lewendig te maak,” sê Kluge. Vanjaar se uitstalling is deur Tristan Woudberg geskilder.

Tristan Woudberg se skildery van die uitstalling.

Dié blommeskou word vanjaar tussen 21 en 25 Mei gehou. Die Chelsea-blommeskou word jaarliks sedert 1913 op die terrein van die Royal Hospital Chelsea in Londen gehou. Dié geleentheid het slegs gedurende die twee Wêreldoorloë in die slag gebly.

Die Kirstenbosch Botaniese Tuin is geleë aan die oostelike hange van Tafelberg, en is internasionaal bekend as een van die sewe mooiste botaniese tuine in die wêreld. Dit is ook een van Kaapstad se sewe grootste toerisme-aantreklikhede.

Dié geleentheid is jaarliks ʼn groot trekpleister vir bekendes.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Ida Kriel ·

Mensig maar dis pragtig en regtig so uniek aan ons land. Dis sulke gebeurtenisse wat my weer trots Suid Afrikaner maak. Baie geluk aan al die betrokkenes vir jul harde werk en kunstigheid om hierdie prag ten toon te kon stel.

Sarie ·

En die Duchess van Cambridge het ook die jaar deelgeneem. Baie geluk! Dis fantasties!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.