Foto’s: Ses dood in man se moordtog

‘n Polisiebeampte staan by ‘n toneel waar die liggaam van een van die oorledenes in die agtergrond lê. Foto: Felix Adamo/The Bakersfield Californian via AP

Ses mense is dood nadat ʼn man in die suide van Kalifornië in die VSA Woensdag vyf mense afgemaai het voordat hy die vuurwapen op homself gerig het.

Die skietery het by ʼn huis en sakeonderneming in Bakersfield plaasgevind, sowat 145 km noord van Los Angeles.

Plaaslike polisie-owerhede sê die man het omstreeks 17:30 saam met sy vrou by ʼn vragmotoronderneming opgedaag waar hy ʼn ander man gekonfronteer het. “Die man het die ander man by die vragmotormaatskappy geskiet, voordat hy omgedraai en sy vrou geskiet het,” het Donny Youngblood, woordvoerder vir die Kern-distrik, gesê.

Die man het daarna nog ʼn man by die sakeonderneming gejaag voordat hy hom voor ʼn nabygeleë sportwinkel doodgeskiet het.

Die skieter is voorts na ʼn huis in Breckenridgeweg waar hy nog twee mense doodgeskiet het.

‘n Groep mense staan naby ‘n toneel waar die skieter losgebrand het (12 September 2018). Foto: Felix Adamo/The Bakersfield Californian via AP

Hy het daarna ʼn voertuig gekaap waarin ʼn vrou en haar kind gery het. Die vrou en kind kon daarin slaag om te ontsnap en die man het met die voertuig na ʼn snelweg gery waar ʼn polisiebeampte hom gewaar het.

Toe die man sien die polisiebeampte is op sy spoor, het hy by ʼn parkeerarea ingery. Die beampte het hom gekonfronteer en sy vuurwapen op hom gerig, waarna die man homself in die bors geskiet het.

“Uiteraard is dit nie lukrake skietvoorvalle nie. Ses mense is binne ʼn baie kort tydjie dood,” het Youngblood gesê. Behalwe vir die skieter se vrou, was dit nie onmiddellik duidelik hoe die oorledenes met mekaar verbind is nie.

Youngblood het gesê ongeveer 30 mense het die skietvoorval gesien en word tans deur die polisie ondervra.

Die identiteit van die skieter is nie onmiddellik bekendgemaak nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

leser ·

sterkte aan familie lede
lyk my dit gaan maar “mal” in ander lande ook
wat gaan aan met die mense ??????

vanJHEras ·

Tragiese gevolge van EGBREUK tot sy uiterste toe gevoer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.