Foto’s: Skoonmaakpogings begin ná olietenker sink

Reddingswerkers spuit skuim in ʼn poging om die vlamme op die brandende olietenkskip te blus (12 Januarie 2018). Foto: Xinhua (zkr)

China het Maandag sy medelye betuig aan die families van die bemanningslede van die olietenkskip, The Sanchi, wat Sondag, ʼn week ná ʼn botsing met ʼn vragskip in die Oos-Chinese See, gesink het.

Reuters berig die olietenkskip, wat aan Iran se top-olieverskaffer behoort, het sedert die botsing op 6 Januarie gedryf tot in Japan se eksklusiewe ekonomiese sone voordat dit gesink het. China Central Television het berig die olietenkskip was vir meer as ʼn week aan die brand voordat dit weens verskeie ontploffings gesink het.

Die voorval word as die ergste ramp van sy soort beskryf en kenners is toenemend bekommerd oor die skade wat aan die mariene ekostelsel aangerig kan word.

Nadat die hele skip Sondagmiddag gesink het, het ʼn groot hoeveelheid van die gemorste olie op die oppervlak van die water begin brand. Die Japanse kuswag het gesê olie het oor ʼn gebied van 13 km lank en 11 km wyd versprei terwyl patrolliebote probeer het om dit te beperk.

Die kuswag het gesê die brand op die oppervlak van die water is Maandagmiddag geblus, maar owerhede en die Chinese staatstelevisie het gesê swart rook het ure daarna steeds van die toneel af die lug in geborrel. Skoonmaakpogings het nou begin en reddingspanne het die grootskaalse soektog na oorlewendes gestaak.

Die brandende olietenkskip kan gesien waar hy hier al gedeeltelik gesink het (14 Januarie 2018). Foto: China departement van vervoer via AP

Lu Kang, woordvoerder vir China se departement van buitelandse sake, het Maandag gesê Chinese reddingspanne het talle kere hul lewens in gevaar gestel om naby aan die brandende olietenkskip te kom om te probeer om die vlamme van naby te bestry. China het ook met reddingspanne van Japan en Korea saamgewerk om te probeer om die brand te blus.

Die olietenkskip was van Iran na Suid-Korea op pad met 136 000 ton kondensaat, ʼn ultraligte ruolie, aan boord toe dit teen die CF Crystal gebots het. Die CF Crystal, wat in Hongkong geregistreer is, het graan vanaf die VSA vervoer. Die kondensaat is hoogs giftig en meer vlambaar as gewone ruolie. Dit is ook kleur- en reukloos, wat dit byna onmoontlik maak om op te spoor.

Daar was 32 bemanningslede, 30 Iraniërs en twee Bangladesjies, aan boord van The Sanchi wat in die voorval gesterf het. Lu het gesê daar word geglo dat al die bemanningslede binne ʼn uur ná die botsing gesterf het.

Die Oos-Chinese See is bekend vir sy ryk, hoewel reeds besoedelde, mariene ekostelsel wat walvisse, tornyne en seevoëls insluit, het Rick Steiner, ʼn Amerikaanse mariene-wetenskaplike met ervaring van oliestortings, gesê.

Greenpeace het in ʼn verklaring gesê die sinking van die olietenker het in ʼn belangrike broeigebied vir visse plaasgevind.

Die brandstof wat uit skepe wat gesink het lek, is relatief maklik beperkbaar omdat dit kleiner hoeveelhede is. Die taaivloeibaarheid maak dit ook makliker om die brandstof uit die water te onttrek, hoewel selfs klein hoeveelhede skadelik kan wees vir marienelewe. “Namate die brandstofolie afkoel, word dit taaier wat verdere lekke kan vertraag of selfs voorkom,” het Greenpeace gesê.

“In hierdie scenario is dit moontlik dat klein volumes oor ʼn tydperk op die seebodem kan uitlek. Die impak daarvan sal relatief plaaslik bly.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.