Foto’s: Skoonmaakwerk begin ná tornado’s in VSA

‘n Verwoeste huis in Kentucky. (Foto: CHANDAN KHANNA / AFP)

Taakspanne het Dinsdag hope rommel weggesleep in Kentucky in die VSA waar ’n rits tornado’s Saterdag groot verwoesting gesaai het.

Minstens 88 mense is dood terwyl geboue platgevee, motors verwoes en bome ontwortel is. Sterftes is ook in Tennessee, Arkansas, Missouri en Illinois aangeteken.

Intussen probeer getraumatiseerde inwoners om weer die stukkies van hul lewe op te tel.

Michael Dossett, direkteur van die Kentucky-noodbestuurafdeling, sê die opruimingswerk is ’n reusetaak. “Die omvang van die skade in sommige gebiede sal jou asem wegslaan.

“Foto’s en video’s kan dit nie beskryf nie.”

Ashley McKnight, ʼn 41-jarige onderwyseres, het die tonele as “totale verwoesting” beskryf.

Twee tieners help met opruimingswerk ná verwoestende tornado’s Kentucky getref het. (Foto: CHANDAN KHANNA / AFP)

McKnight het ʼn koplamp gedra toe sy ’n paar herwinbare en waardevolle items uit haar beskadigde huis in Dawson Springs, ’n dorp met sowat 2 500 inwoners, gehaal het.

“Ons is die hegste gemeenskap wat jy nog ooit gesien het,” het sy aan AFP gesê terwyl sy ’n plastiek pophuis op die platbak van haar bakkie geplaas het.

McKnight het boonop haar tienerseun verlede maand in ʼn motorongeluk verloor.

“Dieselfde mense wat my drie weke gelede so baie gehelp het, se huise is nou verwoes,” het sy emosioneel gesê.

Andy Beshear, goewerneur van Kentucky, sê hy verwag dat nog slagoffers in die puin gevind sal word.

“Skadebepaling is aan die gang en die groot werk gaan voort om puin van paaie te verwyder,” het hy tydens ʼn nuuskonferensie gesê.

Huiseienaars begin met opruimingswerk in Kentucky. (Foto: CHANDAN KHANNA / AFP)

 

“Dis goed om die rommel nie net uit die pad te stoot nie, maar om dit op te laai en uit die stad te neem.

“Daar is iets terapeuties daaraan om dié soort chaos, vernietiging en dood uit die gebied te verwyder.”

Beshear het ʼn beroep op inwoners gedoen om bloed te skenk en sê dat openbare parke oopgemaak is om plek aan mense te voorsien wat hul huise verloor het.

Pres. Joe Biden het  Kentucky tot rampgebied verklaar, wat beteken dat bykomende federale hulp na herstelpogings herlei kan word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Elinette ·

Eindtye is naby. Sedert ongeveer 2015, kom al hoe meer aardbewings, tsunami’s, vloede, massiewe brande, tornado’s en orkane voor.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.