Die Covid-19-pandemie beïnvloed tans 218 lande reg oor die wêreld. Só is 2021 ingelui midde die pandemie wat 2020 op sy kop gedraai het.
Wuhan
Die koronavirus het meer as ’n jaar gelede in Wuhan, China, uitgebreek. Talle mense met maskers het middernag Nuwejaarsvieringe in die Hubei-provinsie bygewoon. Die eerste Covid-19-geval is verlede jaar Desember in dié provinsie aangemeld.
Indië
Christene het Oujaarsaand reeds voor middernag ’n middernagmis by die St. Xavier’s College-kerk in Ahmedabad in Indië bygewoon weens dié land se aandklokreël wat om 21:00 inskop in ’n poging om die verspreiding van Covid-19 te beperk.
Tokio
’n Groep mense het Nuwejaarsdag na die sonsopkoms in ’n park langs die see in Tokio gekyk midde die Covid-19-pandemie.
Griekeland
’n Plein in Athene in Griekeland het middernag leeggestaan weens dié land se aandklokreël wat reeds 22:00 in werking getree het in ’n poging om die verspreiding van Covid-19 te beperk.
Italië
Polisiebeamptes het middernag by die Trevi-fontein in Rome in Italië wag gestaan. Dié land se aandklokreël het reeds 22:00 ingeskop om ’n derde golf Covid-19-infeksies te voorkom nadat Italië verlede jaar gebuk gegaan het onder infeksies.
’n Vrou vier die Nuwejaar tuis op haar stoep in Rome.
Vatikaanstad
Die St. Petrus-basiliek in die Vatikaanstad was dolleeg weens die aandklokreël wat reeds 22:00 hier ingeskop het in ’n poging om ’n derde golf Covid-19-infeksies te voorkom.
België
Die strate van Brussel in België was relatief leeg om middernag.
Amerika
Times Square in New York is sinoniem met Nuwejaarsvieringe hoewel dit vanjaar aansienlik stiller was weens die Covid-19-pandemie. Slegs uitverkore gesondheidswerkers het vanjaar die vieringe in Times Square bygewoon. Die VSA het verlede jaar veral gebuk gegaan onder die Covid-19-pandemie met meer as 20 miljoen gevalle wat aangemeld is.
Frankryk
Renee Bodin (93) het Oujaarsaand na die Franse president Emmanuel Macron se Nuwejaarstoespraak in haar slaapkamer in Happonvilliers in die noorde van Frankryk gekyk. ’n Aandklokreël was Oujaarsaand reeds om 20:00 in dié land van krag.
Australië
Vuurwerke was middernag te sien bokant die bekende Sydney-operahuis in Australië. Dié land meld aansienlik minder gevalle Covid-19 aan vergeleke met ander lande.