Foto’s: Spinnebok laat koppe krap

(Foto: Jess Isden)

ʼn Gemsbok met ʼn spinnerak tussen sy horings het sosialemediagebruikers laat koppe krap. Dr. Jess Isden, hoof van ʼn mens-en-dier-samesynprogram by die natuurbewaringsnavorsingseenheid (WildCRU) aan die Universiteit van Oxford in Botswana, het foto’s van dié verskynsel op Facebook gedeel.

“Ons was bekommerd dat dit dalk van plastiek of mensgemaak is,” het Isden, wat die gemsbok in die Sentraal-Kalahari-natuurreservaat in Botswana gewaar het, gesê.

“Ons het gekampeer toe hierdie gemsbok my aandag getrek het. Ek en my vriend kon nie uitwerk wat aan sy horings hang nie. Ons het gewag dat die gemsbok nader aan die pad kom en toe sien ons dis ʼn spinnerak wat aan sy horings klou.”

Volgens Isden, ook ʼn fotografie-entoesias, het hulle die gemsbok lank dopgehou en gesien dat daar ʼn aantal lewende spinnekoppe op die spinnerak was. “Die bok was heel gelukkig om met die spinnerak en spinnekoppe oor sy gesig te loop.”

Sy sê hulle het dieselfde groep gemsbokke ʼn paar dae later gesien en die spinnerak was nog ongeskonde.

(Foto: Jess Isden/Facebook)

“Ons het lank bespiegel of die dier bloot deur ʼn spinnerak geloop het en of dit ʼn natuurlike verskynsel is. Ek het nog nooit so iets in die natuur gesien nie.”

Sosialemediagebruikers het ook hul menings hieroor geopper.

“Dit lyk asof sulke wedersyds voordelige verhoudings tussen organismes algemeen is,” skryf een gebruiker. “Dit help seker om die vlieë uit sy oë te hou,” lag ʼn ander een.

Dr. Robert Campbell, ʼn veearts wat spesialiseer in natuurbewaring, sê egter dat die bok heel waarskynlik deur verskeie spinnerakke gehardloop het.

“Diere sal nooit toelaat dat hul beskermingsmeganismes – oë, ore en neus – belemmer word nie. ʼn Gemsbok sal nie toelaat dat enigiets sy veiligheid beïnvloed nie, en terselfdertyd sal ʼn spinnekop nie sy spinnerak op ʼn lewende en bewegende organisme spin nie. Dit maak net nie sin vir hul oorlewing nie.”

Campbell sê ook die plasing van die spinnerak spreek boekdele. “Die spinnerak gaan om die horings en begin nie by ʼn vaste punt soos alle ander spinnerakke nie. Die bok moes daardeur gehardloop het.”

“Mens moet onthou dat oorlewing die belangrikste doel vir enige spesie is en hierdie spinnerak bevoordeel nie die gemsbok óf die spinnekop genoeg om dit die moeite werd te maak nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

10 Kommentare

jongste oudste gewildste
Misky

Dis werklik besonders en buitengewoon. Ek dink tog daai spinnekoppe het langer gespin en webbe maak, want dis baie dig en om die horings. As hy deur die webbe moes hardloop, sou dit effe beskadig wees en nie so dig nie sou ek dink

Tiptol

Lyk vir my na ouerige gevestigde spinnerak. Snaaks dat hy nie die web om sy gesig probeer afkrap teen ‘n boom of iets nie. Baie spesiale fotos.

Roedolf Johannes

Hy dra sy vlieê vanger saam hom,wat n pragtige foto

Anel

Dis duidelik, hy moes daardeur geloop het. Dit sit dan tot op sy neus en ore

Dries

Ek twyfel of hy net deur die spinnerak gehardloop het. Die natuur het partymal n besonderse verhouding met mekaar. Dalk ken die spinnekop en gemsbok mekaar se name al. Oryx en spiderman