Foto’s: Steen vir steen word hulle onthou…

Mense loop daagliks oor bronssteentjies wat in die plaveisel ingemessel is.

Op die sypaadjies van baie dorpe en stede oor die hele Europa loop mense daagliks oor bronssteentjies wat in die plaveisel ingemessel is, dalk sonder om op te let dat daar ʼn naam op elkeen gegraveer is.

Dis die name van Jode, dikwels gesinne, wat by dié adres gewoon het voor hulle tydens die Tweede Wêreldoorlog na konsentrasiekampe gestuur is.

Daar is reeds meer as 70 000 “Stolpersteine” – die Duitse woord beteken strompelstene of struikelblokke – by sowat 2 000 straatadresse in Europa gelê. Volgens die bestuurder van die projek, Gunter Demnig, word die waglys met versoeke steeds langer.

Die Stolpersteine is ʼn kille herinnering aan die gruweldade van die verlede, en gedenk plaaslike inwoners wat deur die Nazi’s uit hulle wonings verdryf is. Die idee vir die gedenkstene kom uit ʼn gesegde in die Joodse Talmud dat “’n Persoon kan net vergeet word as sy of haar naam vergeet is.”

Die inskrywing op elke bronsplaatjie begin gewoonlik met die woorde “Hier woon…” en eindig met die datum waarop die persoon in ʼn konsentrasiekamp gesterf het of bevry is.

Petrarcalaan in Oog in Al, Utrecht, Nederland.

Petrarca-laan is ʼn stil voorstedelike straat in die Oog in Al-woonbuurt in die Nederlandse stad, Utrecht. Dis loopafstand van ʼn boomryke park langs die Merwede-kanaal, een van drie waterweë wat die woonbuurt begrens.

Die vyf Stolpersteine voor een van die huise in die straat dui aan dat die Breslauer-gesin daar gewoon het.

Rudolf (41) sy vrou Bella (37) en hul drie kinders, Ursula (16) Stefan (13) en Max (8) is in 1944 van Utrecht na die Westerbork-deurgangskamp in die noordooste van Nederland gedeporteer. Hulle is later na Auschwitz gestuur en net Ursula het die Joodse volksmoord oorleef.

Rudolf Breslauer se Stolperstein voor sy laaste woonplek in Utrecht.

Hulle was Duitse Jode wat in 1938 na Nederland gevlug het om van Nazi-vervolging weg te kom. Hulle het in Westerbork beland nadat iemand hul teenwoordigheid in Utrecht by die Duitse owerhede aangemeld het.

Rudolf was ʼn opgeleide kunsfotograaf en in Westerbork het die kampkommandant, Albert Konrad Gemmeker, hom opdrag gegee om die alledaagse lewe van die inwoners op film vas te lê.

Die aangehoudenes was Jode, sigeuners, gays en lede van versetbewegings wat stelselmatig na konsentrasiekampe in Duitsland en Pole gestuur is. Tot soveel as 107 000 mense het per trein uit Westerbork vertrek en slegs 5 000 van hulle het ná die oorlog teruggekeer.

Die huis waar die Breslauers weggekruip het is regs op die foto.

Rudolf Breslauer se fotografiese beelde bestaan uit ʼn versameling van 11 kortfilms wat wys dat die omstandighede in Westerbork, hoewel agter elektriese heinings, redelik goed was. Daar is nêrens tekens van sigbare geweld of mishandeling in die films nie, maar wel ‘n aantal opnames van treine wat aankom en vertrek.

Die Breslauers het met een van die laaste treine uit Westerbork vertrek en uiteindelik in Auschwitz in die besette Pole beland waar Bella, Stefan en Max in Oktober 1944 in die gaskamers gesterf het. Rudolf is in Februarie 1945 op ʼn onbekende plek in Europa dood.

Ursula, die enigste lid van die gesin wat oorleef het, het in 1948 na Israel verhuis en haar naam na Chanita Moses verander.

Rudolf Breslauer se films is in 2017 as dokumentêre erfenis by Unesco se Wêrelderfenisprogram ingesluit en het so ʼn regmatige plek ingeneem langs, byvoorbeeld, die bekende werk, Die Dagboek van Anne Frank.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

gogga ·

Ja arme Jode!! Ek will net weet wanneer kom die queen van Engeland die Boere Nasie van Suid Afrika om verskoning vra vir die afsterwe van meer as 27000 vroue en kinders indie Boere Oorlog?? Dan wil Suid Afrikaners die konings gesin ophemel. . . . hoekom???

KaterinaKat ·

Ek weet, dis is vir my die mees patetiese ding op aarde dat Afrikaners die Britse konings gesin so ophemel. Pateties verby.

Outoppie ·

Hul kan bly wees dit nie hier anders was dit lankal op die skrootwerf

Hagar ·

Hou moed en stry die stryd dit kan nog baie slegter met ons gaan

Oom Johan ·

Outoppie, jy’s reg. Hier sou daai stene nie eers vasgemessel gewees het of hulle was weggedra skrootwerf toe!!

gogganoEEN ·

gogga…. ek stem saam daai lot speel nou engeltjies maar hulle is is die oorsaak van al die probleme waar mense te na gekom is in die hele wereld ….

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.