Foto’s: Sterftes in Spanje aangemeld weens hittegolf

Brandbestryders besig om vlamme te blus in Palma d’Ebre naby Tarragona in Spanje. [27 Junie 2019]. (Foto: AP Photo/Jordi Borras)

ʼn 17-jarige seun van die Cordoba-streek in die suide van Spanje is dié land se eerste bevestigde slagoffer van die hittegolf wat tans groot dele van Europa in ʼn wurggreep het.

Plaaslike gesondheidsowerhede het bevestig die tienerseun het in lande naby die klein dorpie Castro del Rio gewerk toe hy sonsteek opgedoen het. Hy is Vrydag in die vroeë oggendure in die Reina Sofia de Cordoba-hospitaal dood.

Kort daarna is ʼn tweede sterfte in Valladolid aangemeld waar ʼn 80-jarige op straat dood is.

Die hittegolf word veroorsaak deur ʼn laedrukstelsel oor die Atlantiese oseaan wat warm lug van die Sahara in ʼn noordelike rigting na Europa versprei. Temperature van tot 42 °C het Vrydag in Spanje voorgekom.

BBC berig in Frankryk is die land se hoogste temperatuur ooit in Gallargues-le-Montueux waargeneem – ʼn allemintige 45,9 °C. Die vorige rekord was 44,1 °C tydens ʼn hittegolf in 2003. In Frankryk is ook reeds hittegolfverwante sterftes aangemeld. Donderdag is ʼn konstruksiewerker in Rennes dood nadat hy siek geword het terwyl hy op ʼn bouperseel gewerk het.

Intussen bemoeilik die knellende hitte ook pogings om ʼn verwoestende veldbrand in Tarragona in die noordooste van Spanje geblus te kry. Die brand het Woensdag op ʼn hoenderplaas begin en minstens 7 000 ha is reeds verwoes in wat beskryf word as die ergste veldbrand in die Katalaanse gebied in 20 jaar. Brandbestryders voorspel dat tot 20 000 ha in die slag kan bly voor die vlamme onder beheer gebring kan word.

Minstens 400 brandbestryders veg tans teen die vlamme, met helikopters en vliegtuie wat met die bestrydingspogings help. Verskeie huise in Torre de l’Espanyol, Flix, Vinebre en Palma d’Ebre is reeds ontruim.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
Z

Die foto’s roep herinneringe aan die brande in Knysna op.
Sterkte daar!

KaterinaKat

Hier buite Barberton in Mpumalanga is ek vir maande lank sieklik van die bedompigheid en hitte. Hoofpyn, naarheid, swakheid..dis hel vir my vir ten minste 5 maande van elke jaar. Dit het n groot invloed op mens se leefwyse, ek verlaat die huis nie meer as 3 keer n maand in die somer, net om vir my kinders en kleinkinders te kuier. Ek kan goed glo dat mens kan doodgaan van hitte.

Onnie

Die mense wat so maklik omkap vd hitte moet tog nie in Vredendal in die somer kuier nie!