Foto’s: Sterftes, verwoesting ná orkaan Laura

Groot skade is aangerig in Holly Beach in die laagliggende Calcasieu-parogie in die suidweste van Louisiana. (Foto: AP Photo/Eric Gay)

Minstens vier mense is dood nadat orkaan Laura Donderdag die suidelike Amerikaanse deelstate Louisiana en Texas as kategorie 4-orkaan getref het.

Volgens John Bel Edwards, goewerneur van Louisiana, is ’n tienermeisie (14) een van diegene wat in die storm omgekom het nadat ’n boom op haar ouerhuis geval het.

Edwards het gewaarsku dat nog sterftes moontlik aangemeld kan word namate duisende plaaslike, staats- en federale amptenare soek-en-reddingsoperasies uitvoer, skade ondersoek en water en krag herstel.

Luidens inligting het stormsterk winde “geweldige skade” in Louisiana aangerig. Laura was met windsnelhede van 240 km/h die kragtigste orkaan om Louisiana in 150 jaar te tref.

Groot skade is aangerig in Lake Charles, Louisiana. (Foto: Bill Feig/The Advocate via AP, Pool)

Meer as 600 000 huise en ondernemings is sonder elektrisiteit gestrand gelaat. Altesaam 67 waterstelsels is tans buite werking wat beteken dat 200 000 mense moontlik nie toegang tot skoon water gaan hê totdat dit herstel is nie.

Greg Abbott, goewerneur van Texas, het gesê Laura het veral skade aan die ooste van dié deelstaat aangerig. Geboue se dakke is hiér afgeruk en paaie oorstroom. Groot stukke staalraamwerk het ook weens stormsterk winde deur die lug gewaai en teen bome tot stilstand gekom.

Orkaan Laura het Donderdagaand tot ʼn tropiese storm verswak met swaar reën en tropiese stormsterk winde wat intussen oor dele van die deelstaat Arkansas woed, het die Nasionale Orkaansentrum in die VSA gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Stofdonkie ·

Tog te interessant dat Amerika waar hulle tornado’s en orkane het steeds hulle huise met hout bou. Hier in SA waar ons nie gewoond is aan sulke natuurverskynsels nie bou ons steenhuise.

Die orkaan het steeds baie minder skade aangerig as wat die anc aan ‘n land aanrig in ‘n dag se tyd.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.