Foto’s: Storms eis talle lewens, saai verwoesting

Reddingswerkers soek in die puin in Itogon in die noorde van die Fillipyne na oorlewendes. Foto: AP Photo/Aaron Favila

Die supertifoon wat die naweek verwoesting in die Filippyne en China gesaai het, het reeds tot die dood van minstens 65 mense gelei.

Tifoon Mangkhut het tot talle modderstortings in die Filippyne gelei en tientalle mense is onder die puin vasgekeer. Reddingswerkers soek steeds onverpoos na moontlike oorlewendes.

Meer as 250 000 mense is deur Mangkhut, wat as die koning van storms beskryf is, geraak. Volgens berigte is tot 150 000 mense steeds in ontruimingsentrums.

Reddingswerkers verwyder ‘n liggaam uit die puin in Itogon in die noorde van die Fillipyne. Foto: AP Photo/Aaron Favila

Mangkhut het nadat dit verwoesting in die Filippyne gesaai het die suide van Hongkong getref en toe oor China beweeg terwyl dit na ʼn tropiese storm afgegradeer is. Minstens vier mense is in Guangdong dood.

Winde van tot 200 km/h is aangeteken met talle hoë geboue wat beskadig is en strate wat met puin besaai is. Mangkhut is die sterkste sikloon wat Hongkong sedert 1979 getref het. Honderde mense is beseer en miljoene mense is in die suide van China ontruim.

Intussen het orkaan Florence, wat intussen tot ʼn tropiese depressie afgegradeer is, tot minstens 20 sterftes gelei in die Amerikaanse deelstate Noord- en Suid-Carolina.

Huise is onder water in Dillon in Suid-Carolina. Foto: AP Photo/Gerald Herbert

Daar heers intussen kommer dat die dodetal kan styg aangesien dit steeds reën en riviere oorstroom.

Die oorledenes sluit talle kinders in. ʼn Eenjarige seuntjie is Sondag dood nadat sy ma se motor deur vloedwater meegesleur is. Sy kon daarin slaag om uit die motor te kom en haar seuntjie ook uit te kry, maar die vloedwater het hom uit haar arms geruk. Sy liggaam is eers Maandag gekry.

‘n Man en sy hond wag om gered te word in Pollocksville in Noord-Carolina. Foto: AP Photo/Steve Helber

ʼn Drie maande oue seuntjie is dood nadat ʼn boom op sy gesin se woonwa geval het. ʼn Ma en haar agt maande oue seun is ook dood nadat ʼn reuseboom op hul huis geval het.

Florence het Maandagmiddag (SA tyd) verswak tot ʼn tropiese depressie met windspoed van sowat 45 km/h. Weens reënval van tot 1 000 mm oor dele van Suid- en Noord-Carolina is daar kommer dat riviere in sommige gebiede selfs verder kan styg.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.