Foto’s: Stryd teen tyd op Mauritius-strande

Olie lek uit die MV Wakashio nadat dit verlede week aan die kus van Mauritius gestrand het. (Foto: Eric Villars/AP)

ʼn Skip wat by Mauritius gestrand het en tonne olie in die see stort, is nou besig om te skeur en ʼn selfs groter ekologiese en ekonomiese ramp bedreig die eilandnasie.

Meer as ʼn duisend ton olie het reeds uit die MV Wakashio in die see aan Mauritius se Suidkus gesypel en koraalriwwe, die prentjiemooi spierwit strande en ongerepte strandmere wat jaarliks miljoene besoekers lok, besoedel.

Nog 2 500 ton olie is steeds aan boord van die olietenkskip wat reeds op 25 Julie gestrand het, maar eers die afgelope week olie weens ʼn kraak in die romp begin olie lek het.

Kenners waarsku ʼn verdere skeur kan ʼn oliestorting veroorsaak wat meer as katastrofies gaan wees vir die kwesbare ekostelsel waarop Mauritius – en sy ekonomie – staatmaak.

Pravind Jugnauth, Mauritius se eerste minister, het gesê die lekplek is voorlopig gestuit, maar daar word op die ergste voorberei.

“Die krake word groter. Die situasie is selfs erger,” het hy Sondag gesê.

Daar word desperaat probeer om die strande te beskerm en ‘n omgewingsnoodgeval is verklaar. (Foto: @Maxwell_005/Twitter)

“Die kans dat die skip in die helfte kan skeur, bestaan steeds.”

Japan het reeds gesê hy sal ʼn span van ses kenners stuur om Mauritius by te staan in wat die land bestempel het as ʼn ongekende omgewingsnoodgeval.

Frankryk het ook ʼn vlootskip, weermagvliegtuig en tegniese raadgewers van die nabygeleë Réunion-eiland gestuur nadat Mauritius om internasionale hulp gepleit het.

Duisende vrywilligers, sommige van hulle kop tot tone besmeer in swart slik, het na die kuslyn opgeruk en kilometer lange tuisgemaakte drywende versperrings van strooi opgerig in ʼn desperate poging om die olie te beheer.

Mosiu OSK Lines, wat die skip namens ʼn ander Japanse maatskappy bestuur, het onderneem om alles moontlik te doen om die situasie te beredder.

“Ons is verskriklik jammer,” het die skeepsmaatskappy se visepresident, Akihiko Ono, Sondag in Tokio gesê.

Sommige vrees egter die skade is reeds gedoen.

Lugfoto’s wys die absolute enormiteit van die ramp met groot gedeeltes van die kristalhelder see rondom die gestrande skip wat reeds ʼn diep, donkerswart kleur het. Dik slik bedek die strandwoude en ongerepte strandmere langs die kuslyn en maak jarelange bewaringswerk ongedaan.

“Reeds te laat”

Tydelike versperrings word gebruik om die olie te probeer beheer. (Foto: @Maxwell_005/Twitter)

Die slik versprei al hoe verder langs die kus en sterk wind en seestrome vererger die situasie.

“Ek dink dis reeds te laat. As die skip in twee skeur, gaan die situasie heeltemal buite beheer wees,” het Vassen Kauppaymuthoo, ʼn oseanograaf en omgewingsingenieur, aan AFP gesê.

“Ons praat hier van ʼn reuseramp wat al hoe verder vorder en uurliks al hoe meer ingewikkeld word.”

Daar is ook toenemende druk op die regering om te verduidelik waarom niks gedoen is in die twee weke sedert die tenkskip gestrand het nie. Die opposisie eis die koppe van die ministers van onderskeidelik omgewing en visserye, terwyl vrywilligers ʼn amptelike bevel verontagsaam het om die skoonmaakoperasie aan die plaaslike owerhede oor te laat.

“Mense kom in hul duisende byeen. Niemand luister meer vir die regering nie,” het Ashok Subron, ʼn omgewingsaktivis by Mahebourg, een van die gebiede wat die ergste getref is, gesê.

“Mense het besef hulle moet self ingryp. Ons is hier om die fauna en flora te beskerm.”

Die polisie het Sondag aan boord van die Wakashio, wat onder die Panamese vlag vaar, gegaan en as deel van die ondersoek beslag gelê op die skip se logboek en swart boks.

Die tenkwa het ʼn rif by Pointe d’Esny getref. Dié ekologiese juweel word omring deur idilliese strande, kleurryke riwwe, veilige oorde vir skaars en inheemse wildlewe en eiesoortige vleilande.

Mauritius en sy 1,3 miljoen inwoners steun swaar op die see vir ekotoerisme en het ʼn reputasie opgehou as ʼn bewaringsuksesverhaal en ʼn wêreldklasbestemming vir natuurliefhebbers.

Die storting is ʼn dubbele slag vir toerisme-operateurs wat gehoop het buitelandse toeriste gaan sommer binnekort weer na Mauritius stroom.  Die land het geen aktiewe Covid-19-gevalle nie en het ʼn oorwinning oor die uitbreking verklaar nadat daar geruime tyd geen nuwe infeksies aangemeld is nie.

Die land maak ook op die see staat vir kos en inkomste. Seevaarders in Mahebourg, waar die eens ongerepte see nou ʼn sieklike bruin kleur is, is bekommerd oor die toekoms.

“Vissery is ons enigste bedryf. Ons weet nie hoe ons ons gesinne gaan kosgee nie,” het ʼn visserman, wat sy naam net as Michael aangegee het, gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Christel Cornelissen ·

Dagsê Estelle
Dankie vir jou boodskap. Daar het inderdaad ‘n tikfout ingesluip. Ons vra om verskoning en het reeds die fout reggestel.
Groetnis
Christel
nms Maroela Media

Pieter ·

Eers Beiroet en nou hierdie. Duidelik dat politiek se rak leeftyd verby is. Idiote aan die stuur van sake ingestem deur idiote en/of korrupte praktyke. Die skip se eienaars is ook sleg. ‘n Kan olie maak ‘n rugbyveld se oppervlak vol olie op water. Moes onmiddelik opgetree het, nou te laat. Proaktiewe mense word nie in die samelewing geduld nie. Die wêreld is sieker as net Covid-19.

Niklaas ·

Dis nou een groot gemors. En die land gaan juis gebukkend en trek swaar onder die inperkingsmaatreels. Want soos alle vakansieoorde en hotelle het die omset erg gesak. En nou tref hierdie ramp groot dele van die eiland se kusgebied.

Danie ·

Ek lees nerens ‘n verduideliking hoekom die skip daar vasgeloop het en dat die kaptein in die tronk sit nie.
Net hasoo, ve velly sollie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.