Foto’s: Talle beseer ná ontploffing by supermark

ʼn Ondersoeker staan binne die supermark in St. Petersburg, Rusland ná die ontploffing (27 Desember 2017). Foto: AP Photo/Dmitri Lovetsky

ʼn Ontploffing Woensdag by ʼn supermark in St. Petersburg in Rusland, waartydens minstens 13 mense beseer is, is deur pres. Wladimir Poetin as ʼn terreuraanval bestempel.

Die voorval het Woensdagaand by die Perekrestok-supermark in die Kalininsky-distrik gebeur toe ʼn ploftoestel in die stoorkamer waar kliënte se sakke gehou word, ontplof het. Ondersoekers het gesê die ploftoestel is met skrapnel gevul om meer skade te veroorsaak.

Niemand het nog amptelik verantwoordelikheid vir die aanval aanvaar nie.

Poetin het Donderdag by ʼn weermagtoekenningseremonie by die Kremlin gepraat, maar het nie meer besonderhede oor die aanval bekendgemaak nie. Die president het vroeër verwys na Rusland se operasie in Sirië as ʼn voorkomende aanval teen terreur op tuisgrond.

Viktoria Gordeyeva, ʼn inwoner van St. Petersburg wat kort ná die ontploffing by die supermark verbygeloop het, het gesê mense wat inkopies moet doen, is bang om by ander winkels in die gebied in te gaan. “Daar was nie paniek nie, maar mense is nou huiwerig om by die nabygeleë apteek en kruidenierswinkel in te gaan,” het sy gesê.

Nog ʼn plaaslike inwoner wat ʼn mediese dokter is, Marina Bulanova, het gesê sy het na die supermark gehaas nadat sy die ontploffing gehoor het om te help indien enigiemand beseer is. Sy het gesê teen die tyd dat sy daar aangekom het, was paramedici reeds besig om die beseerdes in ambulanse te laai.

Die VSA het intussen sy burgers wat in Rusland reis, gewaarsku om die toneel van die ontploffing te vermy.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.