
Inwoners aanskou ʼn skool wat ineengestort het in Saterdag se aardbewing. Foto: AP/Dieu Nalio Chery
Die dodetal ná die aardbewing naby Haïti se noordwestelike kus het Maandagoggend tot 14 gestyg.
Volgens amptenare van die brandarm Karibiese eilandstaat is meer as 180 mense beseer, terwyl etlike geboue in duie gestort het, berig Deutsche Welle.
Die aardbewing van 5,9 wat die eiland Saterdagaand getref het, se middelpunt was sowat 20 km wesnoordwes van die kusdorp Port-de-Paix op ʼn diepte van 11,7 km. Dit kon selfs gevoel word in die hoofstad van die voormalige Franse kolonie, Port-au-Prince, sowat 160 km daarvandaan. Dit is gevolg deur ʼn naskok van 5,2 Sondag op dieselfde ligging met ʼn diepte van 10 km.
Volgens Haïti se agentskap vir burgerlike beskerming is minstens agt mense dood op die dorp Port-de-Paix en nog drie mense op die dorp Gros-Morne. Nog ʼn persoon het in Saint-Louis du Nord gesterf. Een van die oorledenes is ʼn vyfjarige seuntjie wat dood is toe ʼn huis op hom ineengestort het.
Reddingswerkers sê hulle soek nog na nog slagoffers.

Grondstortings is ’n gereeld verskynsel in Honduras, soos hier in 2015 toe honderde huise naby die hoofstad, Tegucigalpa, in die slag gebly het. Foto: Facebook
Saterdag se aardbewing was aansienlik kleiner as die enorme skudding van 2010 waarin 200 000 mense dood en 300 000 beseer is. Agt jaar later word groot getalle mense steeds in noodakkommodasie gehuisves en gaan die ekonomie steeds mank aan die nagevolge van die ramp.
Die gebied wat Saterdag deurgeloop is, is die armste deel van die eilandstaat, een van die 20 armste lande ter wêreld. Die nagenoeg 380 000 straatkinders van voor 2010 se aardbewing het daarna met duisende toegeneem. Nog 250 000 kinders werk as “bediendes” en word gewoonlik niks beter as slawe behandel nie, volgens die organisasie The Borgen Project, wat hom vir wêreldwye armoedeverligting beywer.
Elders in Sentraal-Amerika is 12 mense die afgelope paar dae dood in modderstortings en grondverskuiwings weens swaar reënval, berig die Nederlandse dagblad NRC Handelsblad.
Honduras het die swaarste deurgeloop, waar ses mense dood is en 7 000 hul woonplek inderhaas moes ontruim. Huise is verwoes, strate oorstroom en verbindingsroetes deur modderstortings afgesny.
Meteoroloë sê die storm Michael is noordwaarts op pad in die rigting van die VSA en kan dié land vandeesweek in die vorm van ʼn orkaan tref, berig CNN. Waar die storm Maandagoggend oor die Golf van Mexiko gewoed het, was dit reeds so sterk dat mense tot 300 km van sy middelpunt af deur stormsterk tropiese winde getref is.

Pasiënte sit buite die Udata-streekshospitaal in Palu in Indonesië se Sulawesi-provinsie. Talle mense het in die aardbewing gesterf en honderde is beseer. Foto: Xinhua/BNPB
Intussen kan die dodetal in die dodelike aardbewing in Indonesië ʼn week gelede tot meer as 5 000 styg, berig die Britse dagblad The Guardian.
Dit is nagenoeg hoeveel mense steeds vermis word nadat ʼn aardbewing en gevolglike tsoenami die eiland Sulawesi getref het.
Die amptelike dodetal het Maandagoggend op 1 944 gestaan, maar beamptes glo wanneer die sterftesyfer bepaal kan word in die dele van die eiland se hoofstad, Palu, wat die ergste deurloop het – Balaroa en Petobo – kan dié syfer drievoudig toeneem.
Reddingswerkers wat deur die puin van dorpies soek, is bevrees duisende mense is lewend begrawe nadat die aardbewing die harde oppervlak van die grond vloeibaar gemaak en tallose woonplekke met modder oorstroom het.
Die kans dat enigeen nou nog lewend gekry kan word ná die aardbewing tien dae gelede, is uiters gering. Die regering het Sondag gesê die soektog sal Donderdag afgelas word, berig die BBC.
- Inwoners loop verby ’n skool op di dorp Gros-Morne wat tydens die aardbewing deels in duie gestort het. Foto: AP/Dieu Nalio Chery
- Marcorel Maurice staan in sy beskadigde huis op die dorp Gros-Morne. Foto: AP/Dieu Nalio Chery
- Die dorp Gros-Morne was een van dié waar talle huise beskadig is. Foto: AP/Dieu Nalio Chery
- Honderde huise is beskadig of verwoes in Saterdagaand se aardbewing. Foto: AP/Dieu Nalio Chery
- Suster Maryse Alsaint staan Sondag verslae en kyk na die puin van ʼn skool wat die nag vantevore in die slag gebly het in die aardbeweging aan Haïti se kus. Foto: AP/Dieu Nalio Chery
- ʼn Bed is toe onder puin van die aardbewing. Dit het die armste deel van die eilandstaat getref. Foto: AP/Dieu Nalio Chery
O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.
4 Kommentare
Soos met al die groot natuurrampe sedert Trump president geword het, sal die linkses in die VSA sekerlik vir hom ook hiervoor blameer. Lesers kan gerus die volgende frase op die Internet opsoek oor ‘n groot skandaal nadat Haiti deur ‘n vorige aardbewing in 2010 getref is – “Clinton Foundation Haiti scandal”
Presies 2 jaar terug is Haiti deur Hurricane Matthew getref en groot verwoesting is gesaai… 2 jaar later en nog ‘n tragedie tref dai stomme mense… My hart bloei ;(
My hart breek as ek sien hoe swaar daai arme mense kry. Hoe bou jy jou lewe weer op na sulke rampe. Ek dink ons moet God dank vir wat ons het.