Foto’s: Talle dood, beseer toe aardbewing Haïti tref

Inwoners aanskou ʼn skool wat ineengestort het in Saterdag se aardbewing. Foto: AP/Dieu Nalio Chery

Die dodetal ná die aardbewing naby Haïti se noordwestelike kus het Maandagoggend tot 14 gestyg.

Volgens amptenare van die brandarm Karibiese eilandstaat is meer as 180 mense beseer, terwyl etlike geboue in duie gestort het, berig Deutsche Welle.

Die aardbewing van 5,9 wat die eiland Saterdagaand getref het, se middelpunt was sowat 20 km wesnoordwes van die kusdorp Port-de-Paix op ʼn diepte van 11,7 km. Dit kon selfs gevoel word in die hoofstad van die voormalige Franse kolonie, Port-au-Prince, sowat 160 km daarvandaan. Dit is gevolg deur ʼn naskok van 5,2 Sondag op dieselfde ligging met ʼn diepte van 10 km.

Volgens Haïti se agentskap vir burgerlike beskerming is minstens agt mense dood op die dorp Port-de-Paix en nog drie mense op die dorp Gros-Morne. Nog ʼn persoon het in Saint-Louis du Nord gesterf. Een van die oorledenes is ʼn vyfjarige seuntjie wat dood is toe ʼn huis op hom ineengestort het.

Reddingswerkers sê hulle soek nog na nog slagoffers.

Grondstortings is ’n gereeld verskynsel in Honduras, soos hier in 2015 toe honderde huise naby die hoofstad, Tegucigalpa, in die slag gebly het. Foto: Facebook

Saterdag se aardbewing was aansienlik kleiner as die enorme skudding van 2010 waarin 200 000 mense dood en 300 000 beseer is. Agt jaar later word groot getalle mense steeds in noodakkommodasie gehuisves en gaan die ekonomie steeds mank aan die nagevolge van die ramp.

Die gebied wat Saterdag deurgeloop is, is die armste deel van die eilandstaat, een van die 20 armste lande ter wêreld. Die nagenoeg 380 000 straatkinders van voor 2010 se aardbewing het daarna met duisende toegeneem. Nog 250 000 kinders werk as “bediendes” en word gewoonlik niks beter as slawe behandel nie, volgens die organisasie The Borgen Project, wat hom vir wêreldwye armoedeverligting beywer.

Elders in Sentraal-Amerika is 12 mense die afgelope paar dae dood in modderstortings en grondverskuiwings weens swaar reënval, berig die Nederlandse dagblad NRC Handelsblad.

Honduras het die swaarste deurgeloop, waar ses mense dood is en 7 000 hul woonplek inderhaas moes ontruim. Huise is verwoes, strate oorstroom en verbindingsroetes deur modderstortings afgesny.

Meteoroloë sê die storm Michael is noordwaarts op pad in die rigting van die VSA en kan dié land vandeesweek in die vorm van ʼn orkaan tref, berig CNN. Waar die storm Maandagoggend oor die Golf van Mexiko gewoed het, was dit reeds so sterk dat mense tot 300 km van sy middelpunt af deur stormsterk tropiese winde getref is.

Pasiënte sit buite die Udata-streekshospitaal in Palu in Indonesië se Sulawesi-provinsie. Talle mense het in die aardbewing gesterf en honderde is beseer. Foto: Xinhua/BNPB

Intussen kan die dodetal in die dodelike aardbewing in Indonesië ʼn week gelede tot meer as 5 000 styg, berig die Britse dagblad The Guardian.

Dit is nagenoeg hoeveel mense steeds vermis word nadat ʼn aardbewing en gevolglike tsoenami die eiland Sulawesi getref het.

Die amptelike dodetal het Maandagoggend op 1 944 gestaan, maar beamptes glo wanneer die sterftesyfer bepaal kan word in die dele van die eiland se hoofstad, Palu, wat die ergste deurloop het – Balaroa en Petobo – kan dié syfer drievoudig toeneem.

Reddingswerkers wat deur die puin van dorpies soek, is bevrees duisende mense is lewend begrawe nadat die aardbewing die harde oppervlak van die grond vloeibaar gemaak en tallose woonplekke met modder oorstroom het.

Die kans dat enigeen nou nog lewend gekry kan word ná die aardbewing tien dae gelede, is uiters gering. Die regering het Sondag gesê die soektog sal Donderdag afgelas word, berig die BBC.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Casper Labuschagne ·

Soos met al die groot natuurrampe sedert Trump president geword het, sal die linkses in die VSA sekerlik vir hom ook hiervoor blameer. Lesers kan gerus die volgende frase op die Internet opsoek oor ‘n groot skandaal nadat Haiti deur ‘n vorige aardbewing in 2010 getref is – “Clinton Foundation Haiti scandal”

Nettie ·

Mense mag my verkwalik hiervoor, maar vir watter natuurramp kan ons vra, om dinge in SA “reg te ruk” – dis nou as Pres. Trump verantwoordelik gehou word vir natuurrampe wat die VSA tref?

Ai ·

Presies 2 jaar terug is Haiti deur Hurricane Matthew getref en groot verwoesting is gesaai… 2 jaar later en nog ‘n tragedie tref dai stomme mense… My hart bloei ;(

Mary ·

My hart breek as ek sien hoe swaar daai arme mense kry. Hoe bou jy jou lewe weer op na sulke rampe. Ek dink ons moet God dank vir wat ons het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.