Foto’s: Talle gewond toe skieter buite restaurant losbrand

Polisiebeamptes op die toneel van die skietery in Toronto, Kanada (22 Julie 2018). Foto: Frank Gunn/The Canadian Press via AP

Polisiebeamptes is steeds op die toneel waar talle mense buite ʼn restaurant in Toronto in Kanada geskiet is.

Min besonderhede is tans beskikbaar, maar dit blyk asof die skietery omstreeks 22:00 plaaslike tyd in die buurt Riverdale gebeur het.

Sers. Glenn Russell, woordvoerder van die polisie, het aan CNN gesê verskeie mense is gewond en minstens agt mense is na trauma-hospitale in die stad gehaas. Nog twee mense is na ʼn nabygeleë hospitaal geneem. Volgens berigte is een van die gewondes ʼn kind. Dit is nog nie duidelik hoe ernstig die slagoffers beseer is nie.

CBC berig die polisie het bevestig daar is wel mense wat in die voorval gesterf het, maar amptelike bevestiging hiervoor is nog nie gegee nie. Volgens CBC het die polisie bevestig dat die skieter dood is.

Getuies het aan die Toronto Star gesê ʼn man geklee in swart het op mense losgebrand en minstens 20 skote afgevuur.

Nog ʼn getuie het aan CTV gesê hy kon hoor hoe die vuurwapen verskeie kere herlaai word. “En toe het ek die bloedbad gesien toe ek in die straat afgehardloop het om die geluid van die skote te volg. Dit was mal. Ek het minstens vier mense gesien wat geskiet is,” het hy gesê.

Owerhede sal na verwagting binnekort ʼn mediaverklaring met meer besonderhede uitreik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Petro Benade ·

As ek in die aand bid vir die Here se genade dan bid ek nie net vir Suid Afrika nie maar vir al die ander lande waar dinge net so sleg gaan. Om moedeloos te raak is maklik maar om ons geloof sterk te hou is nie so maklik nie,

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.