Minstens tien mense is dood in tifoon Jebi, die kragtigste storm wat Japan in die afgelope 25 jaar getref het.
Tifoon Jebi het die weste van Japan Dinsdag getref met stormreënval en sterk winde wat chaos oor die gedeelte van die land veroorsaak het. Meer as 600 vlugte en honderde treindienste is weens die storm gestaak.
Volgens die plaaslike meteorologiese agentskap het die tifoon die suidelike gedeelte van die Tokushima-prefektuur, ongeveer 600 km suidwes van Tokio, getref. Die storm beweeg teen 55 km/h in ʼn noordoostelike rigting met deurlopende winde wat tot 162 km/h beweeg en rukwinde van tot 216 km/h.
ʼn Tenkerskip van 89 m lank is deur die sterk rukwinde van sy ankers losgeruk en teen ʼn brug vasgewaai wat die Kanai-lughawe met die vasteland verbind.
Kamikatsu het Dinsdag 83 mm reën binne ʼn uur gekry en 80 mm reën het binne ʼn uur in Higashi-Kagawa geval. Albei stede is op die suidwestelike eiland van Shikoku geleë.
Die presiese dodetal is nog nie amptelik bevestig nie, maar BBC berig minstens tien mense het reeds in die storm gesterf. Volgens die nuusagentskap is ongeveer 300 mense beseer. Teen Woensdagoggend is meer as 1,2 miljoen mense opdrag gegee om hul woongebiede te ontruim, terwyl daar ontruimingsaanbevelings vir nog 30 000 mense uitgereik is.
Intussen het weerowerhede gewaarsku dat oorstromings, winde en stormreënval nog oor groot dele van die land verwag word. Volgens die owerhede word golwe van tot 12 m hoog rondom Shikoku en die Kinki-gebied verwag.
In die Tokai-gebied word reënval van 500 mm voorspel, terwyl 400 mm reënval in die Kinki- en Kanto-gebied teen Woensdagmiddag verwag word.
Genade, daardie Japanese loop darem erg deur onder natuurrampe, as dit nie aardbewings is nie dan is dit tifone of tsunami’s maar hulle herbou en herstel alles weer. ongelooflik.
Alki, verbeel jou nou hoe lank dit sou gevat het om sulke skade in S.A. te herstel!
Arme Japan. Gelukkig kan hulle sulke goed hanteer. Sterk en gedissiplineerde mense. Ek wonder hoe ons ou landjie so iets sou hanteer?
Genade, wys mens net die krag van God. Bybel sê, ons kan nog meer sulke goed verwag hoe nader die eindtyd kom. Maranatha
Gepraat van geweldige krag daarvan. ‘n Jaar gelede het ‘n sikloon ‘n gedeelte van die dak van ‘n wolkekrabber langs ons woning, afgeruk en bo-oor die straat op die dak van ‘n ander wolkekrabber neergesit. Onmeetbare krag.