Foto’s: Talle sterf, honderde beseer ná tifoon tref

ʼn Tenkerskip van 89 m lank is deur die sterk rukwinde van sy ankers losgeruk en teen ʼn brug vasgewaai wat die Kanai-lughawe met die vasteland verbind. Foto: Kyodo via Reuters

Minstens tien mense is dood in tifoon Jebi, die kragtigste storm wat Japan in die afgelope 25 jaar getref het.

Tifoon Jebi het die weste van Japan Dinsdag getref met stormreënval en sterk winde wat chaos oor die gedeelte van die land veroorsaak het. Meer as 600 vlugte en honderde treindienste is weens die storm gestaak.

Volgens die plaaslike meteorologiese agentskap het die tifoon die suidelike gedeelte van die Tokushima-prefektuur, ongeveer 600 km suidwes van Tokio, getref. Die storm beweeg teen 55 km/h in ʼn noordoostelike rigting met deurlopende winde wat tot 162 km/h beweeg en rukwinde van tot 216 km/h.

ʼn Tenkerskip van 89 m lank is deur die sterk rukwinde van sy ankers losgeruk en teen ʼn brug vasgewaai wat die Kanai-lughawe met die vasteland verbind.

Kamikatsu het Dinsdag 83 mm reën binne ʼn uur gekry en 80 mm reën het binne ʼn uur in Higashi-Kagawa geval. Albei stede is op die suidwestelike eiland van Shikoku geleë.

Sterk golwe wat deur tifoon Jebi veroorsaak word kan gesien word by die hawe in Aki in die Kochi-prefektuur in die weste van Japan (4 September 2018). Foto: Kyodo via Reuters

Die presiese dodetal is nog nie amptelik bevestig nie, maar BBC berig minstens tien mense het reeds in die storm gesterf. Volgens die nuusagentskap is ongeveer 300 mense beseer. Teen Woensdagoggend is meer as 1,2 miljoen mense opdrag gegee om hul woongebiede te ontruim, terwyl daar ontruimingsaanbevelings vir nog 30 000 mense uitgereik is.

Intussen het weerowerhede gewaarsku dat oorstromings, winde en stormreënval nog oor groot dele van die land verwag word. Volgens die owerhede word golwe van tot 12 m hoog rondom Shikoku en die Kinki-gebied verwag.

In die Tokai-gebied word reënval van 500 mm voorspel, terwyl 400 mm reënval in die Kinki- en Kanto-gebied teen Woensdagmiddag verwag word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Alki ·

Genade, daardie Japanese loop darem erg deur onder natuurrampe, as dit nie aardbewings is nie dan is dit tifone of tsunami’s maar hulle herbou en herstel alles weer. ongelooflik.

GM ·

Alki, verbeel jou nou hoe lank dit sou gevat het om sulke skade in S.A. te herstel!

Johann M van Heerden ·

Arme Japan. Gelukkig kan hulle sulke goed hanteer. Sterk en gedissiplineerde mense. Ek wonder hoe ons ou landjie so iets sou hanteer?

SNEL ·

Genade, wys mens net die krag van God. Bybel sê, ons kan nog meer sulke goed verwag hoe nader die eindtyd kom. Maranatha

Cherokee ·

Gepraat van geweldige krag daarvan. ‘n Jaar gelede het ‘n sikloon ‘n gedeelte van die dak van ‘n wolkekrabber langs ons woning, afgeruk en bo-oor die straat op die dak van ‘n ander wolkekrabber neergesit. Onmeetbare krag.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.