Foto’s: Talle sterf, huise verwoes in oorstromings

Huise wat oorstroom is weens die swaar reën in Idukki in Kerala, Indië. Dié foto is op 9 Augustus 2018 geneem. Foto: Xinhua/Stringer

Oorstromings in Indië se suidelike staat Kerala het reeds die lewe van byna 40 mense geëis en meer as $1,1 miljard skade aangerig.

Owerhede het Maandag bevestig dat die dodetal tans op 39 staan terwyl die gebied hom staal vir nog reënval gedurende een van sy ergste monsoenseisoene van die eeu.

Meer as 3 300 mense moes uit nedersettings in laagliggende gebiede na veiligheid gebring word en word tans in 305 staatskuilings gehuisves. Volgens die regering se rampbestuursentrum het die swaar reën Woensdag oor die gebied toegesak en is daar sedertdien kort-kort sterftes aangemeld van mense wat verdrink of in modderstortings dood is.

Volgens owerhede word vyf mense tans vermis.

Die swaar reën het erge skade in die staat aangerig, met snelweë en gewasse op meer as 1 000 ha landelike grond wat verwoes is.

Vloedwater in Kozhikode in Kerala, Indië. Foto: AP

Pinarayi Vijayan, die staat se hoofminister, het gesê Kerala gaan gebuk onder die “tweede ergste vloed sedert 1924”. Tien van die 14 distrikte in die staat word erg geraak en owerhede moes die sluise van 27 van die groot damme oopmaak.

“Die invloed van hierdie ramp sal na verwagting nog lank gevoel word. Die voorlopige assesserings dui daarop dat bykans 20 000 huise heeltemal verwoes is en byna 10 000 km van nasionale paaie beskadig is,” het Vijayan se kantoor op Twitter gesê. Volgens die staat is die voorlopige skadeberaming sowat 80,3 miljard roepees.

Die reënval het Sondag effens opgeklaar, maar staatsagentskappe is steeds op hoë gereedheidgrondslag aangesien die weerdiens “swaar tot baie swaar reënval” vir groot dele van Kerala nog tot Woensdag voorspel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.