Foto’s: Talle sterf in brand by partytjie

Polisiebeamptes besig met hul ondersoek in die gebrande gebou nadat die vlamme geblus is (29 Desember 2017). Foto: (Xinhua/Stringer) (lrz)

Minstens 14 mense is dood nadat ʼn brand Vrydag op die dak van ʼn restaurant in Moembaai in Indië uitgebreek het.

Die meeste van die oorledenes is gaste wat ʼn verjaarsdagpartytjie bygewoon het. Die vrou wie se partytjie dit was, het pas 28 jaar oud geword, en het ook in die brand gesterf. Volgens berigte is 21 mense beseer.

Volgens die plaaslike brandweer het hulle omstreeks 03:00 ʼn oproep ontvang oor ʼn brand in ʼn kommersiële gebou in die Kamala Mills-distrik. “Die brandweer en die polisie ondersoek die oorsaak van die brand, maar ons weet steeds nie hoe dit begin het nie,” het ʼn senior polisiebeampte aan Reuters gesê.

Talle korporatiewe kantore is in Kamala Mills geleë en die gebied is bekend vir sy naglewe met verskeie gewilde kroeë en restaurante wat in die afgelope paar jaar daar oopgemaak het.

Die brand het by 1 Above begin, ʼn gewilde kroeg-restaurant op die boonste vloer van ʼn gebou. Volgens plaaslike media is die hele gebou binne 30 minute deur die vlamme verswelg. Verskeie mediahuise se kantore is ook op die perseel en minstens drie nasionale nuuskanale het skade gely.

“Die omvang van die brand was enorm en ons bedrywighede is tydelik ontwrig. Al ons werknemers kon veilig ontruim word,” het Times Network in ʼn persverklaring gesê.

Eerste minister Narendra Modi het sy medelye betuig met die slagoffers se naasbestaandes en die beseerdes vinnige beterskap toegewens.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.