Foto’s: Talle sterf in dodelike hospitaalbrand

Brandbestryders op die toneel van die brand in Miryang, Suid-Korea (26 Januarie 2018). Foto: Nasionale Brandagentskap/Yonhap via AP

Minstens 39 mense is dood en meer as 100 mense beseer nadat ʼn brand Vrydagoggend in ʼn hospitaal in Miryang in Suid-Korea uitgebreek het.

Die brand by die Sejong-hospitaal was een van die dodelikste in jare in dié land.

Die brand het by die ongevalle-afdeling begin en die vlamme het vinnig die eerste verdieping van die hospitaal verswelg. Met brandbestryders se aankoms het hulle deur die tweede verdieping se vensters toegang tot die gebou gekry om vasgekeerde pasiënte te red, het Choi Man-wu, ʼn plaaslike brandweerbeampte, gesê.

Volgens Man-wu het die rook vinnig deur die trappe in die middel van die gebou na die res van die hospitaal versprei. Die vlamme kon egter geblus word voordat dit die derde verdieping bereik het.

Die oorsaak van die brand was nie onmiddellik bekend nie. Die hospitaal se bedrywighede is heeltemal opgeskort.

Die 94 mense wat in ʼn ouetehuis aangrensend aan die hospitaal versorg word, kon veilig ontruim word en sommige is op die rûe van brandbestryders uit die tehuis gedra, het Man-wu gesê.

Cheon Jae-kyung, ʼn plaaslike mediese beampte, het gesê tien van die beseerdes is in ʼn kritieke toestand en daar bestaan dus vrese dat die dodetal nog verder kan styg. Volgens brandbestryders is 131 mense beseer en is 18 se toestand ernstig.

ʼn Brandbestryder in die gebrande hospitaal in Miryang, Suid-Korea gedra (26 Januarie 2018). Foto: Kim Dong-mi/Yonhap via AP

Volgens berigte was die meeste van die oorledenes pasiënte in die waakeenheid van die hospitaal waar hulle vir respiratoriese siektes behandel is. Twee dokters en nege verpleegsters het in ongevalle gewerk ten tyde van die brand, maar dit is nie dadelik bekend of hulle in die brand gesterf het nie.

ʼn Beampte van die nasionale brandagentskap het gesê die meeste van die oorledenes het vermoedelik versmoor en net een van die oorledenes het brandwonde opgedoen. Hy het gesê die identifisering van die oorledenes is tans aan die gang.

Pres. Moon Jae-in het beamptes beveel om die nodige mediese ondersteuning aan die oorlewendes van die brand te gee en die presiese oorsaak van die brand vas te stel, het Park Su-hyun, sy woordvoerder, gesê.

Suid-Korea is een van die vinnigste verouderende lande in die wêreld en het verskeie versorgingshospitale waar bejaardes gehuisves word wat langtermyn mediese sorg benodig.

Verskeie van die onlangse brande in Suid-Korea was dodelik. In Desember is 29 mense dood tydens ʼn brand by ʼn fiksheidsentrum in Jecheon. Verlede naweek het ses mense gesterf tydens ʼn brand by ʼn motel in Seoul. Die polisie het kort daarna ʼn man in hegtenis geneem nadat hy na bewering die brand gestig het omdat hy ʼn kamer geweier is omdat hy glo erg onder die invloed van drank was.

In 2014 is 21 mense by ʼn hospitaal vir bejaardes dood toe ʼn brand deur ʼn 81-jarige dementia-pasiënt gestig is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.