Foto’s: Talle sterf toe bom deur kiesersentrum ruk

Mense staan buite die kieserregistrasiesentrum wat tydens die selfmoordbomaanval verwoes is (22 April 2018). Foto: AP Photo/ Rahmat Gul

Minstens 57 mense is dood en meer as 100 beseer nadat ʼn ontploffing Sondag deur ʼn kieserregistrasiesentrum in Kaboel, Afghanistan se hoofstad, geruk het.

Wahid Majro, woordvoerder van dié land se departement van gesondheid, het gesê van die 57 mense wat dood is, was 22 vroue en agt kinders. Altesaam 119 is beseer, van wie 17 kinders en 52 vroue is. “Hierdie getalle kan verder styg,” het Majro gesê.

Die selfmoordbomaanval het burgers geteiken wat vir nasionale ID-kaarte by die sentrum geregistreer het.

Die reuse-ontploffing het deur die stad geruk. Vensters kilometers ver van die toneel het gebars en talle voertuie ver van die ontploffing is beskadig. Polisiebeamptes het alle paaie na die toneel afgesper en slegs ambulanse is toegelaat om deur te gaan. Televisiekanale het beeldmateriaal uitgesaai van honderde ontstelde inwoners wat buite hospitale saamdrom op soek na hul geliefdes.

Die Islamitiese Staat (Isis) het verantwoordelikheid vir die aanval aanvaar in ʼn verklaring wat deur sy Aamaq-nuusagentskap uitgereik is. In die verklaring sê die groep hy het “Shiite-afvalliges” geteiken.

ʼn Vrou huil buite ʼn hospitaal nadat een van haar geliefdes in die selfmoordbomaanval gesterf het (22 April 2018). Foto: AP Photo/Massoud Hossaini

Die aanval kom byna ʼn maand nadat nog ʼn Isis-selfmoordbomaanvaller ʼn aanval naby ʼn Shiite-altaar in Kaboel uitgevoer het om mense te teiken wat die Persiese nuwejaar gevier het. In dié aanval is 31 mense dood en 65 gewond.

Pres. Ashraf Ghani het Sondag se aanval in ʼn verklaring veroordeel en gesê sulke “terreuraanvalle” sal nie die land se mense verhoed om aan die komende parlementêre verkiesing deel te neem nie.

Afghanistan sal in Oktober parlementêre verkiesings hou en die registrasie van kiesers het ʼn week gelede begin.

Verlede week is drie polisiebeamptes wat ʼn kieserregistrasiesentrum in twee Afghaanse provinsies bewaak het deur militante doodgeskiet.

Afghanistan se veiligheidsmagte sukkel om aanvalle van die plaaslike Isis-filiaal, asook die stewig gevestigde Taliban af te weer sedert die VSA en Nato hul weerstandsmissie einde 2014 afgesluit het. Albei groepe voer gereeld aanvalle uit, met die Taliban wat gewoonlik die regering en veiligheidsmagte teiken, terwyl Isis fokus op die land se Shiite-minderheid.

Albei groepe wil ʼn streng vorm van Islamitiese regering in Afghanistan vestig en is gekant teen demokratiese verkiesings.

Antonio Guterres, sekretaris-generaal van die Verenigde Nasies, het die aanval veroordeel en gesê diegene wat daarvoor verantwoordelik was, moet aan die pen ry.

Elders in Afghanistan is vyf mense dood toe hul voertuig oor ʼn bom in die pad in die noordelike Baghlan-provinsie gery het. Zabihullah Shuja, woordvoerder vir die provinsiale polisiehoof, het gesê nog vier mense is gewond in ʼn ontploffing Sondag in Puli Khomri, die hoofstad van die Baghlan-provinsie.

In die noordelike Balkh-provinsie is die polisiehoof dood nadat hy Saterdag tydens ʼn skietgeveg met insypelaars gewond is. Volgens Sher Jan Durrani, ʼn woordvoerder vir die polisie, is ongeveer 12 insypelaars ook in die skietgeveg doodgeskiet.

Die polisiehoof wat dood is, is geïdentifiseer as Halim Khanjar. Die Taliban het ook vir hierdie moord verantwoordelikheid aanvaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

RIP ·

Wat voel hulle vir die wit boere in SA? Jammer maar of almal se aanslae moet afgekeur en aangespreek word of niemand s’n nie . JAMMER oor die verlies aan lewens, maar ons kan ook niks daaraan doen soos julle niks aan die boere se vrese en aanvalle doen nie.

PJC ·

Ek wonder hoe gaan hulle dit regkry om ń verkiesing te hou wat as vry en regverdig beskou sal word. Om dit reg te kry sal hulle van ANC waarnemers gebruik moet maak soos in Zim tydens Robert Mugabe se bewind. Die enigste oplossing wat ek vir die Moslemwêreld sien is om alle radikale elemente totaal uit te wis en van ouens soos Sadam Hoesein terug te bring om hulle met ń ysterhand in toom te hou.

Jakals ·

Dis hartroerend. Dis verskriklik dat sulke dinge gebeur in hierdie moderne tyd.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.