[Foto’s] Talle sterf toe magtige tifoon tref

Macau in die suide van China nadat Tifoon Hato getref het (23 Augustus 2017). Foto: Xinhua

Minstens 12 mense is dood nadat die magtigste tifoon in meer as ʼn halfeeu die voormalige Portugese kolonie Macau in die suide van China getref het.

Tifoon Hato, ’n maksimum kategorie 10-storm, het erge vloede en kragonderbrekings veroorsaak, strate het oorspoel en die vensters en deure van geboue is deur die sterk winde en gietende reën stukkend geslaan.

Jose Pereira Coutinho, ʼn politikus in Macau, het gesê talle mense is sonder water en elektrisiteit gelaat. “Dit is ʼn ramp. Die verliese is enorm en baie geboue gaan herstelwerk nodig hê,” het hy gesê.

Sterk winde van Tifoon Hato by die waterfront van die Victoria-hawe in Hong Kong (23 Augustus 2017). Foto: AP Photo/Vincent Yu

Coutinho het gesê die vloede is erger in die ouer dele van die stad, waar die nou straatjies terugdateer na die tyd toe Macau vir meer as vier eeue lank ʼn Portugese kolonie was. “Mense het net geswem en geskree om hulp. Daar was geen bote nie. Die water het net so skielik gekom,” het Coutinho gesê. Hy het na die stadsowerhede gekap omdat hy meen hulle te stadig op die ramp gereageer het.

Inwoners het tot by hul heupe deur die troebel water gesukkel en rye stadsbusse kon gesien word waar dit in die strate staan met die water wat tot halfpad teen die busse opstoot.

China se amptelike Xinhua News Agency het gesê agt mense is in Macua dood, terwyl nog vier in die aangrensende provinsie van Guangdong gesterf het en een persoon nog vermis word. Tifoon Hato het die gebied Woensdag getref met winde van tot 160 km/h. Teen Donderdag is dit tot ʼn tropiese storm afgradeer soos dit na die westelike binneland beweeg het.

Macau in die suide van China nadat Tifoon Hato getref het (23 Augustus 2017). Foto: Xinhua

Drie van die mans wat in Macau gesterf het, was onderskeidelik 30, 45 en 62 jaar oud. Een van die mans het uit die 11de verdieping van ʼn gebou geval, een is deur ʼn vragmotor getref en die ander het gesterf toe ʼn muur deur die sterk winde omgewaai is.

Volgens Xinhua is ongeveer 27 000 mense na noodskuilings ontruim en is daar uitgebreide skade aan landerye aangerig. Byna twee miljoen huishoudings is sonder kragtoevoer gelaat, terwyl vissersbote moes terugkeer na die hawe en treindienste en vlugte opgeskort is.

“In vergelyking met ander tifone het Hato vinnig beweeg, al sterker geraak en massiewe vlae reën meegebring,” het Wu Zhifang, hoofweervoorspeller by die Guangdong- meteorologiese buro, gesê.

Vloede en beserings is ook in Hongkong, wat oor die water 64 km van Macau af geleë is, aangemeld. Daar is egter geen sterftes hier aangemeld nie. Hongkong se weersowerhede het die orkaansein vir die eerste keer in vyf jaar na die hoogste vlak verhoog.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Morne Roux ·

They abolished the one child policy and nature clearly responded.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.