Foto’s: Talle sterf toe vliegtuig op snelweg neerstort

Die toneel waar ʼn vragvliegtuig naby die Savannah Hilton Head Internasionale Lughawe buite Savannah in Georgia in die VSA neergestort het (2 Mei 2018). Foto: Chris Hanks/Savannah Professional Firefighters Association via AP

Minstens vyf mense is dood nadat ʼn vragvliegtuig wat aan die Puerto Rico nasionale lugmag behoort Woensdag naby ʼn lughawe buite Savannah in Georgia in die VSA neergestort het.

Die Amerikaanse lugmag het die vyf sterfgevalle bevestig, maar CNN berig al nege bemanningslede aan boord die vliegtuig het gesterf. CBS News berig ook dat nege mense gesterf het en dat daar geen oorlewendes van die tragiese ongeluk is nie.

Isabelo Rivera Negron, adjundant-generaal van Puerto Rico se lugmag, het aan verslaggewers bevestig dat daar nege mense aan boord was. Daar word gevrees dat die amptelike dodetal van vyf kan styg. ʼn Plaaslike lykskouer in Georgia het ook aan die nuuskanaal WSAV gesê dit is onwaarskynlik dat iemand die ongeluk sou oorleef.

Die C-130 Hercules-vliegtuig het omstreeks 11:30 (plaaslike tyd) op ʼn besige snelweg naby die Savannah Hilton Head Internasionale Lughawe neergestort. Die vliegtuig het wonderbaarlik geen motors of mense op die grond getref nie.

Ooggetuies het gesê die vliegtuig het kort nadat dit opgestyg het, neergestort. Beeldmateriaal het getoon hoe dik swart rookwolke van die toneel af borrel en brandbestryders was op die toneel om die vlamme te blus.

Die oorsaak van die ongeluk is nog nie bekend nie, maar die VSA se Nasionale Wag het op Twitter gesê die vliegtuig was besig met ʼn opleidingsvlug.

Pres. Donald Trump is ingelig van die voorval en het op Twitter sy medelye teenoor die families van die oorledenes uitgespreek. Ricardo Rossello, die goewerneur van Puerto Rico, het ook sy medelye uitgespreek en die voorval as ʼn “betreurenswaardige ongeluk” bestempel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.