Foto’s: Talle uit Parys ontruim ná ‘swaarste reën in 50 jaar’

Foto: AP Photo.

Sowat 1 500 mense is uit Parys ontruim midde die swaarste reënval wat Frankryk in 50 jaar ervaar het.

Reuters berig dié mense moes hul huise in die Ile de France-distrik, wat die hoofstad en sy voorstede insluit, verlaat. Owerhede is waaksaam vir vloedrisiko’s ná die vlakke van die Seinerivier Sondag nog verder gestyg het.

Michel Delpuech, hoof van Parys se polisie, het aan Reuters gesê die vloedwater sal stadig wegsypel.

Die vloedwater het reeds sypaadjies langs die rivier in Parys oorstroom en die Louvre-museum genoop om ʼn uitstalling van Islamitiese kuns in sy kelder te sluit. Volgens berigte swem swane waar daar normaalweg sypaadjies was.

Dié reënbuie het tuine en paaie heeltemal “ingesluk” en skeepsvaarte onderbreek. Treinstasies langs die rivier is ook gesluit en sal glo vir die volgende paar dae gesluit bly.

Volgens die Meteo Franse weerdiens het daar landwyd sowat dubbel die hoeveelheid reën geval as wat daar normaalweg in Januarie verwag word. Die reënval in die afgelope twee maande is ook die hoogste wat ooit gemeet is oor dieselfde tydperk in die afgelope 50 jaar.

Vigicrues, ʼn agentskap wat vloede monitor, het gesê die watervlakke in Parys het vroeg Maandag 5,84 m op die Austerlitz-skaal bereik.

Die normale vlak is glo 1,5 m op die Austerlitz-skaal. In 1910 het dit 8,62 m bereik.

Die watervlakke sal na verwagting ongewoon hoog bly vir die volgende paar dae of selfs weke. Dit kan uiteraard slegte nuus wees vir toeriste wat Parys binne die volgende paar dae of weke wil besoek.

Water bereik glo byna die onderkant van historiese brûe, en bome en lamppale kan gesien word waar dit bo die Seine se water uitsteek.

Dié vloed het glo reeds skade aan 242 dorpe langs die rivier veroorsaak en vloedwaarskuwings is ingestel soos die water stroomaf beweeg.

Jean-Paul Michel, burgemeester van Lagny-sur-Marne, suid van Parys, het gesê inwoners is gewoond aan seisoensvloede, maar dié een hou uitsonderlik lank aan. Die vloed is nou in sy derde week.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Global Warming ·

Smaak my Parys het die Kaap se reen gekry? Hoop almal is darem veilig . dis ‘n pragtige plek!

Riana ·

Ek sal letterlik ‘n orgaan gee om hierdie reen in die Kaap te kry! :(

Marius ·

Ongelooflike reen wat ons gekry het, dankbaar daarvoor. Jammer ons kon dit nie oorstuur Kaap toe nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.