[Foto’s] Terreur glo nie rede vir Times Square-voorval

Times Square, New York (18 Mei 2017). Foto: Xinhua/Wang Ying

Die man wat Donderdag met sy motor tussen voetgangers in Times Square in die Amerikaanse stad New York ingeploeg en die dood van ʼn 18-jarige vrou veroorsaak het, is in aanhouding.

Richard Rojas (26), in ʼn inwoner van die Bronx-gebied in New York, word onder meer van moord en poging tot moord aangekla.

Rojas het glo met sy motor op ʼn sypaadjie in Times Square tussen voetgangers ingejaag en drie en ʼn halwe blokke ver gery voordat hy teen verkeersversperrings tot stilstand gekom het. ʼn 18-jarige vrou is dood en haar 13-jarige suster is onder die 22 beseerdes. Vier van die beseerdes was in ʼn kritieke toestand en nog drie het ernstige beserings opgedoen.

CNN berig Rojas het positief getoets vir die dwelmmiddel PCP en aan die polisie gesê God het vir hom gesê om dit te doen. Volgens CNN ly Rojas aan ʼn sielkundige afwyking en het hy aan die polisie gesê hy het verwag dat hulle hom sou skiet. Hy het eers probeer vlug, maar is op die toneel in hegtenis geneem en na ʼn mediese fasiliteit geneem waar hy vir dwelmmiddels en alkohol in sy bloed getoets is.

Times Square, New York (18 Mei 2017). Foto: Xinhua/Wang Ying

Bill de Blasio, burgemeester van New York, het gesê daar is geen aanduiding dat die voorval met terreur verband hou nie.

ʼn Ooggetuie het aan DPA gesê sy moes uit die pad uit spring om te verhoed dat sy deur die voertuig getref word. “Toe ons die motor sien, was daar klaar vyf of ses mense op die enjinkap, so ek kon nie regtig die bestuurder sien nie. Mense wat vir die verkeerslig gewag het [om die straat oor te steek] is deur die motor getref,” het Kaoru Emura, ʼn navorser wat in die gebied werk, gesê. “Ek het gewonder hoekom die motor nie stadiger ry nie. Ek het geen remme gehoor nie.”

Emura het gesê sy het mense met nekbeserings en snywonde gesien, terwyl ander geskree het en na die beseerdes gehardloop het.

Rojas, ʼn vlootveteraan, is in 2008 en 2015 in hegtenis geneem vir dronkbestuur en weer vroeër vandeesmaand nadat hy ʼn besoeker in sy woonstel met ʼn mes gedreig het. Hy is ook voorheen in hegtenis geneem omdat hy ʼn taxibestuurder aangeval het.

Times Square is een van New York se grootste toeriste-aantreklikhede en ongeveer 300 000 mense loop elke dag daardeur.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

marous ·

Laat hom in die pad sit … om ‘n draai , waar die groot busse loop.

John ·

Hierdie klink na ‘n storie. Mense met probleme kan nie hulself en hul optrede diagnoseer nie. Hoekom juis daar?

Pendoring ·

Gevaarlike dwelm PCP. Gebruikers verwys soms na die effek daarvan as “A bullet to the brain”. Veral as dit gerook word.
Simptome:
-Sien dinge wat nie teenwoordig is nie.
-Hoor dinge wat nie daar is nie.
-Waan gevoel van grootsheid met opgeblase gevoel van belangrikheid.
-Hoër bloeddruk en hartklop.
-Asemhalingsprobleme.
-Verhoogde liggaamstemperatuur.
-Angs, paniek, en voel uiters bekommerd.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.