Foto’s: Tientalle dood in verwoestende brande

Foto: AP Photo: Thanassis Stavrakis

Minstens 50 mense is dood in verwoestende veldbrande wat aan Griekeland se kusgebiede woed.

Die brande wat aan weerskante van Athene woed, het reeds erge verwoesting gesaai en honderde mense het na strande gevlug waar hulle met skepe uit die gevaarsone na veiligheid gebring is.

Die dodetal het vroeër op 24 gestaan, maar reddingswerkers het sedertdien nog sterftes bevestig. Reddingswerkers het onder meer op 26 liggame naby ʼn strand afgekom.

Foto: AP Photo: Thanassis Stavrakis

Nikos Oikonomopoulos, hoof van die Rooikruis in Griekeland, het aan die media gesê die 26 liggame wat gevind is, is glo dié van gesinne. Hulle is styf teen mekaar gevind in posisies wat dit laat lyk of hulle mekaar vasgehou het.

Volgens berigte is kusgebiede ontruim, meer as 700 mense reeds daaruit verwyder en meer as 100 mense beseer. Miltiadis Mylonas, adjunkdirekteur van ambulansdienste, het gesê die dodetal sal na verwagting verder styg terwyl reddingswerkers deur motors en huise soek wat in puin gelê is.

Die brande hou tans geen bedreiging vir Griekeland se bekende antieke monumente in nie. Die brande is die dodelikste in meer as 10 jaar. Die twee grootste brande woed onderskeidelik naby Rafina, sowat 30 km oos van Athene, en die ander een naby Kineta, sowat 55 km wes van Athene.

Minstens 60 mense is in 2007 dood toe veldbrande in die Peloponnese-streek gewoed het.

“Dit is ʼn moeilike tyd vir Griekeland,” het eerste minister Alexis Tsipras gesê nadat hy sy besoek aan Bosnië kortgeknip en na Athene teruggekeer het.

Die Europese Unie is intussen versoek om bystand te verleen, terwyl Ciprus en Spanje reeds hulp aangebied het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.