Foto’s: Tientalle sterf in rampspoedige oorstromings

Inwoners in Kure in die Hiroshima-gebied keer terug na hul huise en kyk na die skade nadat swaar reën in die suidwestelike dele van Japan geval het (9 Julie 2018). Foto: Kyodo News via AP

Minstens 140 mense het reeds gesterf weens die rampspoedige oorstromings in die suidwestelike dele van Japan en dié dodetal sal waarskynlik verder styg, aangesien talle mense steeds vermis word.

Teen Dinsdagoggend was daar meer as 50 mense van wie daar nog nie rekenskap gegee kon word nie.

Reddingswerkers is steeds besig om in die Hiroshima-gebied deur modderstortings en langs rivieroewers na oorlewendes te soek en owerhede kon nog nie ʼn amptelike dodetal bevestig nie.

Business Standard berig die dodetal staan tans op 141, terwyl NDTV berig die dodetal kan al so hoog as 156 wees.

Die oorstromings is veroorsaak deur die meeste reënval wat in meer as drie dekades in Japan geval het.

Die reddingswerk word bemoeilik deur hoë temperature en modderige toestande, terwyl die vervoer van verligtingshulpmiddels vertraag word deur paaie en vervoerstelsels wat beskadig is, veral in gebiede wat weens die swaar reën afgesonder is.

Huilende familielede van drie mense wat in die vloed gesterf het staan en kyk na die skade wat deur die massa water aangerig is in Uwajima in die Ehime-gebied (9 Julie 2018). Foto: Takuto Kaneko/Kyodo News via AP

“Geen water, geen kos, niks kom hier uit nie,” het Ichiro Tanabe, ʼn 73-jarige inwoner van Kure (sowat 25 km van Hiroshima) aan die Mainichi-koerant gesê. “Ons gaan almal uitdroog as ons nog langer so afgesonder bly.”

Yoshihide Suga, hoofkabinetsekretaris, het tydens ʼn nuuskonferensie gesê minstens 134 mense het gesterf en nog sewe mense is vermoedelik dood. Talle van die duisende inwoners in Hiroshima en omliggende gebiede moes ontruim word en sommige mense is selfs van huise se dakke af gered nadat die reën uiteindelik Maandag opgehou het.

Shinzo Abe, die eerste minister, het ʼn oorsese reis na Europa gekanselleer om die ramp te hanteer.

Suga het gesê die regering het ʼn taakspan op die been gebring en spandeer 2 miljard yen (ongeveer R242 miljoen) om voorraad en ander hulpmiddelle by ontruimingsentrums en inwoners uit te kry.

Die weermag het vroeër Dinsdag sewe olievragmotors van Hiroshima na Kure geneem waar die 226 000 inwoners heeltemal afgesny is weens die ramp. Duisende huise in Hiroshima en ander gebiede het steeds geen water en elektrisiteit nie. Intussen staan inwoners in lang rye om water uit tenkers te kry terwyl die temperature tot bo 35 ˚C styg.

Die dak van ʼn huis lê in die middel van ʼn pad in Kurashiki in die Okayama-distrik in Japan (9 Julie 2018). Foto: Yohei Nishimura/Kyodo News via AP

Inwoners wat tans by ʼn plaaslike laerskool in die Yano-distrik gehuisves word, is van water, komberse en selfoonlaaiers voorsien. Die inwoners het aan verslaggewers vertel van hul noue ontkomings.

Saburo Yokoyama (82) het gesê sy was geskok om die vloedwater reg buite haar huis te sien. “Dit was net vreesaanjaend. Die voorkant van ons huis het soos ʼn rivier geword en die water het ʼn oorverdowende geluid gemaak,” het sy vertel.

Ryutaro Hirakawa (18) het gesê hy het besluit om te vlug toe hy ʼn vreemde reuk opgemerk het wat daarop gedui het dat ʼn modderstorting op pad was. “Die reuk van grond en gras was so sterk toe ek die venster oopmaak. Ek het besef daar is besig om modderstortings plaas te vind,” het hy gesê.

Die regering het 75 000 soldate en reddingswerkers en bykans 80 helikopters ontplooi om met soek-en-reddingsoperasies te help.

Die Japan Meteorologiese Agentskap het gesê tot 100 mm reën per uur het oor groot dele van suidwestelike Japan geval.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.