Foto’s: Tories wen in Brittanje

Boris Johnson, leier van die Konserwatiewe Party, Vrydag in die vroeë oggendure in Uxbridge, Londen. (Foto: Kirsty Wigglesworth, AP)

Die Konserwatiewe Party (Tories) het Vrydagoggend die derde algemene verkiesing in Brittanje in die afgelope vier jaar met ʼn meerderheid gewen.

Die Britte het Donderdag na die stembusse gestroom in die verkiesing wat ook as die Brexit-verkiesing bekend gestaan het.

Sky News berig Boris Johnson, leier van die Konserwatiewe Party, het gesê dié oorwinning gee hom die mandaat om Brexit deur te voer wanneer hy as eerste minister na Downingstraat terugkeer.

BBC berig Jeremy Corbyn, leier van die Arbeidersparty, het gesê die party het ʼn teleurstellende uitslag gehad. Corbyn het ook aangedui dat hy nie weer die party in ʼn verkiesing sal lei nie.

Die Arbeidersparty se stem het met 8% afgeneem vergeleke met die algemene verkiesing in 2017. Die Konserwatiewe Party se stem het met 1% toegeneem.

Luidens voorspellings sal Johnson se party teen die tyd dat die finale uitslag bekend gemaak word, meer as 360 setels verseker het.

Jeremy Corbyn, leier van die Arbeidersparty, Donderdag by ‘n stemlokaal. (Foto: Thanassis Stavrakis, AP)

Dit plaas die Verenigde Koninkryk op koers om die Europese Unie op 31 Januarie 2020 te verlaat. Johnson se veldtog het een belofte aan die Britte gemaak: “Om Brexit gedoen te kry”.

“Ons moet nou verstaan watter aardbewing ons veroorsaak het … die manier waarop ons die politieke landskap verander het,” het Johnson gedurende die vroeë oggendure gesê.

Meningspeilings het reeds vroegoggend voorspel dat die party sou seëvier.

Die Britse pond het Donderdagoggend te midde van dié peilings skerp gestyg met die pond wat 1,3513 teenoor die Amerikaanse dollar en 1,2067 teenoor die euro verhandel het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

11 Kommentare

jongste oudste gewildste
André André

Gaan Trump ook hierdeur in Amerika voordeel trek, ‘n voortsetting van verskuiwing in wêreldpolitiek? Die Republikeine sal mos nou self opgepomp wees oor Trump se kanse.

DC

Fantastiese nuus. Selfs Pretoria is weer in sig. ANC julle tyd vir games loop uit.

Wielspore

Die melk afleweings man het die verkiesing gewen!

Oom Charles

Ja toemaar, Wielspore – en tegelykertyd gesorg dat die britse pond versterk.
Nie sleg vir die melkman nie.
Dan moet jy net wag tot die posbode en die koerantjoggie bykom.
Die Europa-parlement is net ‘n boelie-bende.
‘n Land (met ‘n wettige regering) moet toegelaat word om sy eie koers te kies.
Britse kiesers is bietjie beter ingelig as hier by ons.

George

Go boris . Met die engelse uit eu gaan pole en ander lande volg . Dit gaan ons baie help met onderstening vir ons as minderhede hier.