[Foto’s] Tragiese Kersfees: Minstens 14 dood in VSA-tornado’s

Diana Davis wys hoe het haar huis voor die skade in Lutts, Tennessee gelyk (Desember 2015) Foto: Larry McCormack/The Tennessean via AP

Diana Davis wys hoe het haar huis voor die skade in Lutts, Tennessee gelyk (Desember 2015) Foto: Larry McCormack/The Tennessean via AP

Minstens 14 persone is dood en talle huise beskadig of verwoes in tornado’s en storms in die suide van Amerika.

Tornado’s het te midde van ongewone warm weer Woensdag tussen Arkansas en Michigan voorgekom. Die tornado’s het Donderdag na die ooste van die land geskuif en erge storms het strate in Alabama laat oorstroom en daar was ʼn modderstorting in die berge in Georgia.

Owerhede het bevestig minstens sewe persone is in Mississippi dood, insluitend ʼn sewejarige seuntjie wat in ʼn motor was toe ʼn storm dit opgetel en neergewerp het.

Vier persone is in Benton County, Mississippi, dood insluitend ʼn egpaar en twee persone in dieselfde straat. “Ek het dalk van my goed verloor, maar minstens leef ek nog,” het Bobby Watkins, een van die bure, gesê.

Nog ses persone is in Tennessee dood. Een persoon het in Arkansas gesterf.

Greg Flynn, woordvoerder vir die Mississippi-noodbestuuragentskap, het gesê talle persone is beseer, waarvan talle ernstige beserings opgedoen het.

Soekspanne deursoek beskadigde huise en ondernemings vir vermiste persone. Die soektog word bemoeilik deur talle persone wat vir die feesseisoen met vakansie uitstedig is. “Ons gaan steeds bly soek terwyl ons nie seker is waar die persone is, nie, want in sommige gevalle is van die huise tot op die grond toe verwoes,” het Flynn gesê.

Tony Goodwin van Linden, Tennessee, het saam met sewe ander persone in ʼn stormskuiling weggekruip terwyl die storm gewoed het. Toe hy uitkom, was sy huis uit die fondasie geruk, teen die heuwel af. Hy kon inklim en Kersgeskenke uithaal wat onder die Kersboom was. Sy bure was nie so gelukkig nie – twee persone is in een huis dood. “Dit laat mens dankbaar voel om Kersfees saam met jou familie te wees,” het hy gesê. “Dit is waaroor Kersfees gaan.”

Chris Shupiery, ook van Linden, het Donderdag sy Kersvaderhoed en ʼn kettingsaag gegryp om te help met die opruimingswerk. Hy het van die bome wat omgeval het, begin opsaag. “Dis die regte ding om te doen, om mense in nood te help,” het Shupiery gesê. “Probeer om mense op te beur en help hulle om bietjie beter te voel terwyl dit Kersfees is.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.