Foto’s: Tropiese sikloon Cheneso laat duisende dakloos

(Foto: Elie Sergio/AFP)

Minstens 25 mense in Madagaskar is dood en 21 word nog vermis nadat tropiese sikloon Cheneso die eiland getref het.

Volgens die rampbestuurskantoor in Madagaskar word meer as 83 000 geraak en byna 38 000 is dakloos. Altesame 23 600 huise is beskadig en 500 is heeltemal verwoes.

Cheneso het Madagaskar op 19 Januarie getref en tien dae op die westelike gedeelte van die eiland gewoed. Dit het ook tot stormsterk wind en oorstromings in talle gebiede aanleiding gegee.

Cheneso is aanvanklik as ʼn tropiese storm geklassifiseer, maar het die afgelope paar dae in intensiteit toegeneem tot ʼn tropiese sikloon met wind van tussen 118 km/h en 166 km/h wat opgeteken is.

Die storm het oorspronklik in die suidweste van die Indiese Oseaan ontstaan.

Gedurende die week het die sikloon suidooswaarts beweeg en groot skade aan onder meer huise en skole aangerig, terwyl nasionale paaie ook oorstroom is.

Dit is die eerste tropiese sikloon wat Suider-Afrika in die huidige sikloonseisoen tref. Die seisoen duur gewoonlik vyf maande van November tot April.

Maroela Media het vroeër berig dit is hierdie stelsel wat die warm en droë weersomstandighede in Suid-Afrika veroorsaak.

Volgens die weerdiens hou Cheneso nie ʼn gevaar vir Suid-Afrika in nie.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Kirst ·

Ek was twee keer in Madagaskar in 2007 en 2008. Ek dink hulle “slash and burn” metode van landbou dra by tot die probleem. Die erosie is so erg dat die riviere permanent so rooi soos op die foto’s is soos wat die bogrond wegspoel in die see in. Gevolglik is daar min plantegroei oor om water se vloei na laer gebiede te verlangsaam. Die sikloon sou steeds ‘n ramp veroorsaak het daarsonder, maar dalk bietjie minder erg wees?

Martie Smartie ·

Skielik is alle storms nou die gevolg v aardverwarming. Storms en orkane ens ens woed al duisende jare op aarde mense, bly kalm. Een storm oor Madagaskar bewys beswaarlik aardverwarming. Die tweeters op twitter hou oor doe algemeen daarvan om te oordryf.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.