Foto’s van ma se een dag saam met seun voor sy sterf

Sarah Bertrand en haar seun, Julian. Foto: Facebook

ʼn Man van Louisiana in die VSA het hartroerende foto’s op Facebook gedeel van sy verloofde en hul pasgebore babaseuntjie se enigste dag saam voordat sy net 24 uur ná die geboorte onverwags dood is.

Jean Luc Montou het Sondag op Facebook gesê ʼn maand nadat sy verloofde, Sarah Bertrand (29), dood is, word hy steeds onkant gevang deur die onverwagse verlies. Montou is nou ʼn enkelpa vir die twee se maand oue seun, Julian.

Julian is op 9 Mei vanjaar in ʼn hospitaal in Moss Bluff, Louisiana, gebore. Hoewel die geboorte goed verloop het en die paartjie verheug was om hul nuweling uiteindelik vas te hou, was die vreugde van korte duur. Daily Mail berig Bertrand het ʼn dag later gesterf weens ʼn bloedklont in haar longe wat gedurende die kraamproses gevorm het.

“Dit voel nog steeds nie werklik nie. Dit het binne oomblikke gebeur en toe is sy weg. Ek het hierdie vrou so lief gehad en daar was geen waarskuwing nie. Sy was so bly om vir klein Julian te hê,” het Montou kort na die tragedie geskryf.

Jean Luc Montou en Sarah Bertrand kort na Julian se geboorte. Foto: Facebook

Na Bertrand se dood het iemand ʼn aanlyn-fondsinsameling vir Montou begin om te help met die onkoste van Bertrand se begrafnis en om na Julian om te sien. Montou het ook ʼn dogter uit ʼn vorige verhouding. Binne ʼn maand is meer as $25 000 (ongeveer R320 000) ingesamel.

Montou het Sondag gesê hy het die afgelope maand gesukkel om tydens die rouproses ook na sy babaseun om te sien. “Sarah is altyd in my hart en in my gedagtes en ek weet eendag sal ons almal weer ʼn familie wees. Ek weet sy is nou gelukkiger as wat enige mens op aarde ooit kan wees. Ek weet sy kan uiteindelik rus en het nou vrede van haar aardse siektes en probleme. Ek weet my rol was om Sarah die laaste twee jaar van haar lewe gelukkig te maak.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Pieterlewismuts ·

Hierdie is vir my nou n baie hardroerende storie.

Christine ·

Ai, dis hartseer, maar ek glo dat daar Oumas en Oupas is wat sal help met die baba, Ek sal hulle in my gebede hou.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.