[Foto’s] ‘Verlore stad’ toe net geologiese verskynsel

Die ‘verlore stad’ aan die kus van die Griekse eiland Zakynthos (Foto: Universiteit van Athene)

Die ‘verlore stad’ aan die kus van die Griekse eiland Zakynthos (Foto: Universiteit van Athene)

Die sogenaamde verlore stad wat snorkelduikers in 2013 aan die kus van die Griekse eiland Zakynthos gevind het, is toe al die tyd net die gevolg van geologiese verskuiwings.

Só blyk dit uit die navorsing van ’n span wetenskaplikes argeoloë en geoloë aan die universiteite van Athene en Oos-Anglia.

Die nuus van die verlore stad het in 2013 soos ʼn veldbrand op sosiale media versprei toe snorkelduikers op “mensgemaakte” pilare en gladde vloere, binnehowe en kolonnades afgekom het. Die duikers was oortuig hulle het op die oorblyfsels van ’n stad afgekom wat onder die see verdwyn het, soortgelyk aan die oorblyfsels van Atlantis wat in 1999 deur Franck Goddio opgespoor is.

“Nuwe navorsing het bewys die ‘stad’ is eintlik ʼn geologiese verskynsel wat byna vyf miljoen jaar gelede in die Plioseen-tydperk plaasgevind het,” het prof. Julian Andrews van die Britse universiteit van Oos-Anglia verduidelik. “Dit het bevestig waarom snorkelduikers nie enige ander tekens van menslike aktiwiteite soos potskerwe kon vind nie.”

Die “bouwerk”, wat tussen twee en vyf meter onder die see-oppervlak is, is glo veroorsaak deur ’n ondergrondse verskuiwingsvlak wat metaangas in die see laat uitsypel het, waar mikrobes gehelp het om strukture van dolomiet te vorm. Dit het ook as “sement” gedien om ander natuurlike rotsvoorwerpe aan mekaar te “messel”.

Andrews het gesê die proses vind gewoonlik net honderde en selfs duisende meter onder die see plaas. “Hierdie soort verskynsel is baie skaars in vlak water. Dieselfde gebeur in die Noordsee en dit is soortgelyk aan die gevolge van hidrouliese breking. Dit is ook ʼn bewys dat natuurlike metaan uit rotse sypel.”

Bron: EurekAlert, Daily Mail

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Paul ·

Franck Goddio het g’n “Atlantis” gevind nie. Die stad wat hy gevind het was Thonis/Heracleion aan die noordwestekant van die Nyldelta.

Daar bestaan in werklikheid geen antieke mite oor die bestaan van ‘n plek soos “Atlantis” nie. Dis letterlik maar net ‘n denkbeeldige stad wat Plato as ‘n voorbeeld gebruik het in een van sy allegoriese stories. Dit verskyn nie in enige ander antieke werke of mites nie. Plato het nie bedoel dat dit werklik was nie. Niemand ernstig het ooit gedink dis werklik nie. Geen argeoloog sal aankondig dat hy “Atlantis” gevind het nie, want alle argeoloë weet dis net ‘n voorbeeld wat Plato gebruik het.

Pieter Senior ·

Noutoe nou – hoe WEET-enskaplik tog….. En het die Australiers al uitgevind dat hulle ointdekking van 3,5-miljard jaar gelede uitiendelik ook maar ‘n duistere raaiskoot was? Mens is skoon stomgeslaan deur sulke hoe vlakke van WEET-enskaplikheid.

Paul ·

Pieter Senior, dalk moet jy eerder die wetenskaplikes se eie, volledige publikasies oor hul ontdekkings lees as om op die media se “vereenvoudigde” weergawes daarvan staat te maak.

Herman Toerien ·

Pieter Senior. Die datering van argeologiese, paleontologiese en geologiese voorwerpe is ‘n omvattende onderp op sy eie (Google gerus). Om seker te maak van ‘n ouderdom sal die wetenskaplikes gewoonlik drie paslike metodes gebruik waarvan die ouderdomme baie na aan moet ooreenstem. Voor die vakartikel gepubliseer word, word dit eers aan portuuroorsig onderwerp, en eers as dié groep tevrede is dat die feite en berekenings akkuraat was, word dit gepubliseer. Ongelukkig het Jan Publiek nie altyd tot die vakartikels self nie omdat ‘n mens moet betaal om in te teken.

Theuns ·

Dit wys jou maar net. Ons weet nie alles nie maar dankie Herman en al die wetenskaplikes.

Sarel ·

As daar nou iemand is waarvan ek nie n woord glo nie en my heeltemal aan afvee is dit wetenskaplikes. Hulle beweer en vermoed en neem aan en eintlik beteken dit niks, dis hol woorde, daar is geen feite en as jy lank genoeg jouself iets wysmaak, dan sal jy dit later glo en selfs kwaad word as ander dit nie glo nie. Nee wat, die brokkie nuus verbaas my nie, soos ek sê, niks van n wetenskaplike wil ek van hoor of weet nie. Hoog betaalde werk gevul met die meeste leuens.

Jaco Grobler ·

Met hou op daai een Sarel. Moderne wetenskap maak sin en ons is dankbaar vir wetenskaplikes se bydraes, maar alle historiese ‘ontdekkings’ is gebasseer op aannames. So terloops, is die regte woord snorkelduikers?

Jan Aucamp ·

Geagte Sarel, ek is ‘n wetenskaplike. Jou wilde aannames en uitsprake is hol woorde soos jy graag verkondig. As dit darem nie vir wetenskalikes was nie, hetsy die fisiese wetenskappe of andersinds, was jy dalk lank nie meer op hierdie derde rotsagtige planeet van die son af nie. As jy sou belangstel om verder met my te argumenteer, kan jy gerus so maak.
Ek begin nie maklik ‘n argument nie, maar ek sal darem regtig nie sommer van ‘n lekker een af wegloop nie.

Pieta ·

Ai, daar is ongelukkig nie net feite as ‘die wetenskap’ praat nie! Ek kan dikwels net my kop skuld oor dít wat voor gehou word as feite, terwyl die aannames waarop die teorieë berus tog so lekker in die lug hang. Ons het maar onderskeidingsvermoë nodig wanneer ons lees wat aan ons opgedis word! Baie van dít wat wetenskaplik ‘bewys is’ pas eintlik maar net in by ‘n teorie wat iewers berus op ‘n aanname wat uit die lug gegryp is. En dan praat ek nog nie eens oor die datering van gesteentes ens nie … ‘n lekker landmynveld dáárdie!

Stefaans ·

Ek glo die wetenskaplikes, maar ons moet nie toelaat dat feite ‘n goeie storie bederf nie.

Sarie ·

Dit laat my dink aan die storie van die vrou wat se kleipot van haar stoep verdwyn het en ‘n week daarna wereldwyd nuus gemaak het oor die “wetenskaplikes” se “ontdekking”. Sy het toe die ander pot vir hulle gewys (sy het 2 identiese potte gemaak vir haar plante) en bewys dat dit haar pot is. DIE storie het net dood geloop, maar dis iets wat ek tot my dood sal onthou.

Johann Marx ·

Jare terug is ek in Clocolan uitgenooi om my kameras na ‘n boer se plaas te bring…want hy’t ‘n grot met 2000 boesman tekeninge in. Toe ek hom vra hoe hy weet dit is 2000, was sy antwoord: “Ek weet, want ek’t hulle SELF geteken!!

Eliza-beth ·

Ai, Mark Twain se kwotasie kom op by my: “It’s better to keep your mouth shut and appear stupid than open it and remove all doubt”. So die wat hier monde oopmaak en probeer om die wetenskap (wat op feite berus) te minag slaan eintlik hul eie naam met ‘n plank. Hierdie artikel is net ‘n bewys dat die wetenskaplikes in watter kategorie hul ook mag val, nie dinge net glo maar ondersoek en navorsing doen voor hul net dinge as waar aanvaar.

Theo ·

Eliza-beth, ek dink jy moet weer lees wat Sarie geskryf het, ek sluk ook swaar aan wat n wetenskaplike sê.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.