[Foto’s] Verskeie matrose se liggame gevind ná vegskip-botsing

Die beskadigde USS Fitzgerald by Yokosuka-vlootbasis, suid van Tokyo (18 Junie 2017) Foto: Kyodo News via AP

Duikers van die Amerikaanse Vloot het ʼn aantal liggame Sondag gevind aan boord die USS Fitzgerald wat Saterdag met ʼn vragskip gebots het naby die kuslyn van Japan. ʼn Woordvoerder het egter gesê nie al sewe van die vermiste matrose is al gevind nie.

Soek- en reddingsbeamptes het toegang bekom tot die ruimtes wat tydens die ongeluk beskadig is, en het die oorskot na die Vloothospitaal geneem waar hulle uitgeken sal word, het die Vloot in ʼn verklaring gesê.

Yoko Kato, ʼn woordvoerder vir die Amerikaanse Vloot in Yokosuka, het nie gesê hoeveel liggame gevind is nie.

Bykans al 300 matrose aan boord sou gelê en slaap het toe die ongeluk plaasgevind het. Twee kajuite, ʼn enjinkamer en die radiokamer is beskadig en het water ingeneem toe die vegskip beskadig is.

Diegene wat nie oorleef het nie, is moontlik dood tydens die impak van die botsing of het moontlik verdrink tydens die oorstroming in die kajuite, het lt. Paul Newell, woordvoerder van die Vloot, gesê.

Japan se kuswagbeamptes het gesê die see- en lugsoektog duur voort op die toneel, 56 seemyl (103 km) suidwes van Yokosuka, waar die VSA se 7de Vloot gehuisves word.

Die Vloot het gesê die families is in kennis gestel en hulle ontvang die ondersteuning wat hulle benodig “tydens hierdie moeilike tyd”. Die name van die matrose sal bekend gemaak word nadat alle naasbestaandes in kennis gestel is.

Water is Saterdagaand laat steeds uit die vegskip gepomp.

Die Filippynse vragskip is by Oi-kaai, waar beamptes bemanningslede ondervra oor die oorsaak van die ongeluk.

Minstens drie ander bemanningslede van die USS Fitzgerald, insluitend die kaptein, is beseer.

“Dit was ʼn baie moeilike dag,” het adjunk adm. Joseph P. Aucoin, bevelvoerder van die 7de Vloot, gesê. “Ek word bemoedig deur die dapperheid en volharding deur die bemanning van die Fitzgerald. Nou dat die skip in Yokosuka is, versoek ek dat julle die families sal help deur hulle privaatheid te gun terwyl ons na ons vermiste matrose soek,” het hy gesê kort voordat van die liggame gevind is.

Die USS Fitzgerald se kaptein, kdr. Bryce Benson, is vroeg Saterdag met ʼn helikopter na die Vloothospitaal geneem en is in ʼn stabiele toestand met ʼn kopbesering. Twee ander bemanningslede wat skrape en kneusplekke opgedoen het, word ook behandel. Dit is nog nie duidelik hoeveel ander bemanningslede beseer is nie.

Die Japannese kuswag het gesê hy het omstreeks 02:20 (1720 GMT Vrydag) ʼn noodoproep van die Filippynse vragskip ACX Crystal ontvang dat dit met die Fitzgerald gebots het.

Bemanningslede van die ACX Crystal, wat deur ʼn Japannese verskepingsmaatskappy bedryf word, word ondervra en die voorval word hanteer as ʼn saak van moontlik professionele nalatigheid, het Masayuki Obara van die kuswag gesê.

Die Filippynse skip is 29 060 ton en 222 meter lank, het die kuswag gesê, baie groter as die vegskip van 8 315 ton.

Die verskepingsmaatskappy, Nippon Yusen, het gesê nie enige van die 20 bemanningslede op die vragskip is beseer nie.

“Ons dink aan en bid vir die matrose van USS Fitzgerald en hul families,” het pres. Donald Trump op Twitter gesê. “Dankie aan ons Japannese vriende vir hulle bystand.”

Klik hier om nog foto’s te sien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

John ·

Iemand was wintie hier. Draai jy weg… Please sir, listen.. Weet jy wie ons is… Solly what saying… no hear… Go quick we no turn … too slow boat… Sir… you hear? Rampspoed en ellende…

thelsa ·

Iemand is in die Poef. Met al die elektroniese toerusting deesdae tot julle beskikking, moes iemand wragtag iets opgemerk het . . tensy . .. .

Klip in die bos ·

Moontlike taxi bestuurder wat ‘n nuwe loopbaan wou uit toets. ??

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.