Foto’s: Vier sterf in NS-sikloon; duisende ontwortel

Groot skade is aangerig in die oorstromings naby Napier in Nieu-Seeland. (Foto: AFP)

Weermaghelikopters het gestrande stormoorlewendes in Nieu-Seeland na veiligheid gehys, nadat sikloon Gabrielle die lewe van vier mense geëis en 10 500 ontwortel het.

Met die storm wat nou in die suidelike Stille Oseaan vervaag, het reddingspanne uiteindelik verafgeleë streke bereik wat weens dae lange swaar reën en stormsterk wind tot dusver van die buitewêreld afgesny is.

Die Nieu-Seelandse weermag het drie NH90-helikopters op verkenning- en reddingsendings na die swaar getrefde Hawke’s Bay-gebied ontplooi waar hulle gesinne, troeteldiere en kollegas op deurweekte sinkdakke in ʼn vloed van rommelbestrooide vloedwater aangetref het.

“In sommige gevalle het die water al die tweede verdieping bereik waar mense gered is,” het ʼn woordvoerder van die weermag gesê.

Die ramp het paaie afgesny, huise laat ineenstort en kragonderbrekings oor ʼn groot gedeelte van Nieu-Seeland se Noordeiland veroorsaak; dit is die tuiste van meer as driekwart van die land se vyf miljoen inwoners.

Mense in Napier in Nieu-Seeland stap deur die vloedwater. (Foto: AFP)

Intussen styg die dodetal. Volgens die polisie is die liggaam van ʼn kind in Eksdale aan die afgeleë ooskus gevind nadat die kind vermoedelik in stygende vloedwater beland het.

Kieran McAnulty, minister van noodbestuur, sê drie ander liggame is reeds uit stormgeteisterde gebiede gehaal. Dit sluit in die liggaam van ʼn vrou wat dood is toe haar huis in ʼn modderstorting in Hawke’s Bay platgestoot is en ʼn slagoffer – vermoedelik ʼn vrywilliger-brandbestryder – wat in ʼn huis vasgekeer is wat ineengestort het.

Sowat 10 500 mense is tot dusver ontwortel en nog 140 000 sit sonder krag, aldus McAnulty.

Hy het die ongelooflike pogings van reddingswerkers en weermaglede geloof wat sowat 300 mense van geboue se dakke in Hawke’s Bay opgepik het. Die gebied word gekenmerk deur welige landbougrond, berge en moeilik bereikbare dorpe.

ʼn Groep van 60 mense is van een gebou gered wat deur vloedwater omring is.

Lugfoto’s wys ʼn landskap met strome vloedwater, verspoelde paaie en reusemodderstortings.

“Daar is nog gebrekkige inligting. Sommige gebiede is nou al ʼn paar dae lank sonder enige kommunikasie en ons weet daar is ʼn tekort aan kos en water,” het McAnulty aan die radiostasie Newstalk ZB gesê.

Groot opruimingswerk lê voor

‘n Lugfoto wys die Waiohiki-brug en omgewing nadat sikloon Gabrielle die gebied getref het. (Foto: AFP)

Dit gaan ʼn maande lange stryd wees om die beskadigde paaie, huise en brûe te herstel.

Die owerhede het Dinsdag vir net die derde keer in die land se geskiedenis ʼn ramptoestand afgekondig. Die vorige kere was met die Christchurch-aanvalle in 2019 en daarna weer tydens die Covid-19-pandemie.

“Dit is ʼn aansienlike ramp en dit gaan weke duur vir die gebiede om te herstel,” sê McAnulty.

Sommige streke is al dae lank van die buitewêreld afgesny. Kos en water is beperk en brandstof word gerantsoneer. (Foto: AFP)

Sikloon Gabrielle het verlede week oor die noordoostelike kus van Australië gevorm en het Nieu-Seeland se noordelike kus Sondag getref. Daarmee saam het wind van tot 140 km/h, reusegolwe en stortreën gekom.

Talle gebiede in die noorde van Nieu-Seeland was reeds deurweek toe sikloon Gabrielle dit getref het, nadat dit twee weke gelede rekordhoë reënval gekry het.

Die Auckland-lughawe het volgens die land se weerdiens byna die helfte van sy jaarlikse reënval oor die afgelope 45 dae ontvang.

Wetenskaplikes sê sikloon Gabrielle het versterk oor ongewoon warm oseane, aangedryf deur ʼn kombinasie van klimaatsverandering en La Niña-weerpatrone (wat heelwat reën veroorsaak).

Die storm is nou reeds honderde kilometers oos van Nieu-Seeland, met windsnelhede wat reeds aansienlik verminder het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Katinka ·

Dis darem ma erg, maar ek sal eerder daar wil wees as in SA, al hael dit, sneeu dit, tsunamis om my, aardbewings, SA is ‘n 1000x erger!

Corne ·

Ek dink ons almal wat in SA woon voel moedeloos maar as jy mooi gaan dink is dit nog die beste land ooit. Christene word vervolg en doodgemaak in baie lande, daar is oorloe en verwoesting net waar jy kyk. Die ISIS neem oor orals oor. Ek dink elke land het maar sy probleme. Hier kan ons nog doen en maak net wat ons wil. Die spreekwoord se, moet nooit dink die gras is groener aan die ander kant. Ja daar is baie Suid Afrikaners wat gelukkig is in ander lande, maar ek weet ook van baie wat vasgekeer is wat wil terugkom maar het nie die fondse het nie. So dit is maar ‘n 50/50 . Net maar my mening.

TruthDealer ·

Twee dinge wat die meeste ander lande darem het, is ordentlik genoeg staatshospitale en ten minste n funksionele polisiediens. Maar ja, soos ek die wêreld in geheel bekyk, is die tradisioneel blanke Europese lande, Amerika en Kanada ook, besig om staaadig maar baie seker ook te versleg. NS en Australië is totale “nanny states”. Ek moet sê as ek skielik miljoene ontvang en iemand sê vir my kies n nuwe land, sou ek vir dae lank moes dink. En dan seker maar in Namibië gaan woon. Of selfs Botswana, waar hulle polisie en regstelsel hard is op misdadigers. Oor nog n dekade of twee gaan die Europese lande in elk geval lyk soos SA, en Amerika en Kanada soos Sentraal Amerika. Volgens plan.

Gideon ·

Daardie ouens in die water lyk soos Suid Afrikaners………………..maak pret van alles…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.