Foto’s: Vlieënier ruil in die lug sy vliegtuig

Luke Aikens klim suksesvol in die Silwer vliegtuig in Eloy, Arizona (24 April 2022) (Foto: Predrag Vuckovic/Red Bull Content Pool)

Twee vlieëniers, Luke Aikens en Andy Farrington, het Sondag ʼn waaghalsige toertjie onderneem – om in die lug hul vliegtuie te ruil. Die twee neefs se poging was gedeeltelik suksesvol omdat Luke inderdaad in die ander vliegtuig kon oorklim en verder kon vlieg, maar Andy moes met ʼn valskerm terugkom aarde toe.

Dit is die eerste keer in die geskiedenis dat só iets aangepak word.

Luke het veilig met sy vliegtuig in die Arizona-woestyn geland. Andy kon egter nie by Luke se vliegtuig inklim nie en hy moes sy valskerm ontplooi. Hy het ʼn veilige landing gehad.

Die tweede vliegtuig se veiligheidsmeganismes is geaktiveer, maar die vliegtuig is beskadig.

Nie een van die vlieëniers of enigiemand anders is beseer nie.

Maroela Media het vroeër berig die vliegtuie sal naby aan mekaar vlieg en die twee neefs sou dan poog om uit te klim, beheer oor te neem van die ander vliegtuig en verder vlieg.

Albei neefs is deel van die Red Bull-lugmagspan en het op 6 Maart ʼn toetsvlug in Kalifornië in die VSA onderneem.

Die toertjie is op 24 April om 16:00 PT (Maandagoggend om 01:00 Suid-Afrikaanse tyd) regstreeks op Red Bull TV uitgesaai. Die twee het in twee Cessna 182-enkelsitplekvliegtuie opgestyg tot ʼn hoogte van 14 000 voet. Die hele proses om mekaar se vliegtuie oor te neem, was nogal ingewikkeld. Dit beteken hulle moes by die ander vliegtuig uitkom, by die stuurkajuit inklim, die lugremstelsel ontkoppel, die enjin weer aan die gang kry en uiteindelik beheer neem oor die vliegtuig.

Die neefs het vantevore ook waaghalsige toertjies onderneem. Luke het die wêreldrekord ingepalm om 25 000 voet sonder ʼn valskerm te vryval – en te oorleef toe hy in ʼn 30 m x 30 m-net geval het. Dit is slegs een van drie wêreldrekords wat hy agter sy naam kan skryf. Andy het al meer as 27 000 valskermspronge en 1 000 GABA-spronge (“BASE jumps”) onderneem en het meer as 6 000 uur as ʼn vlieënier aangeteken, aldus Red Bull.

Die Red Bull-lugmag, volgens hulle webwerf, is ʼn span van die beste en mees ervare lugvaartkenners ter wêreld. Hulle spesialiseer in hoogs gekoördineerde lugsprongdemonstrasies en poog die uiterste in menslike vlug.

Klik hier om die beeldmateriaal te sien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Renet ·

Dis verseker n DUUR TOERTJIE- wat nog gesê van WAAGHALSIG!!

Martin ·

Red Bull gives you wings. Great Luke en Andy dit is nie iets wat enigiemand kan doen nie, ek sal graag so iets wil doen een dag. Ek hoop julle kry dit reg volgende keer ek hou styf duim vas – pasop net vir die enjins se propellers ‘n man wil nie graag ‘n paar vingers of iets meer verloor nie…!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.