Foto’s: Vulkaanuitbarsting ‘grootste in dekade’

Dié dreunende vulkaan, in die weste van Indonesië, het gesorg vir ’n skouspelagtige vertoning van aambeeldvormige borrelende rookwolke en as (Foto: Bahari Tarigan, AFP)

Die Sinabung-vulkaan in Indonesië wat Dinsdag uitgebars het, het vuurwarm as en rook sowat 5 km die lug ingeskiet. Kenners beskou dit as dié vulkaan se grootste uitbarsting sedert 2010, maar waarsku dat die vulkaan enige tyd weer kan uitbars.

Dié dreunende vulkaan in die weste van Indonesië het gesorg vir ’n skouspelagtige vertoning van aambeeldvormige borrelende rookwolke en as. Vulkanoloë het die oggend altesaam 13 afsonderlike vulkaanuitbarstings by dié vulkaan aangeteken.

Geen beserings of sterftes is ná dié uitbarstings aangemeld nie. Dit is weens die feit dat daar geen mense in ’n vyf kilometer radius rondom die vulkaan woon nie.

Dié dreunende vulkaan, in die weste van Indonesië, het gesorg vir ’n skouspelagtige vertoning van aambeeldvormige borrelende rookwolke en as (Foto: Bahari Tarigan, AFP)

Owerhede sê dit was ook nie nodig dat inwoners van nabygeleë dorpe en stede hul huise moes ontruim nie. Hierdie inwoners waag egter nie enige kanse nie en bly steeds binnenshuis om die dik vulkaniese as te vermy.

Muhammad Nurul Asrori, ʼn moniteringsbeampte by Sinabung, het gesê die uitbarsting is die grootste wat hy sedert 2010 gesien het. Hy waarsku inwoners teen nog groter uitbarstings. “Die vulkaan kan enige tyd weer uitbars en ʼn groter stortvloed warm wolke veroorsaak,” het Asrori gesê.

Sinabung, met ʼn hoogte van sowat 2 460 meter bo seespieël, was eeue lank rustend voordat dit in 2010 weer uitgebars en die lewe van twee mense geëis het. Die vulkaan het in 2013 weer uitgebars en is sedertdien baie aktief. In 2014 en 2016 het die vulkaan uitgebars wat onderskeidelik 16 en sewe sterftes veroorsaak het.

Indonesië het meer as 130 aktiewe vulkane. Die eiland is geleë op die sogenaamde “Ring van vuur”, ʼn gordel van tektoniese plaatgrense wat die Stille Oseaan omring. Seismiese aktiwiteite kom gereeld hier voor.

Die berg Merapi op die eiland Java, een van die wêreld se aktiefste vulkane, het ook vandeesweek uitgebars en lawa aan een van sy hange laat afloop.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.