Foto’s: Vyf dood nadat skieter in nuuskantoor losbrand

Owerhede op die toneel buite die kantoor van The Capital Gazette-koerant in Annapolis (28 Junie 2018) Foto: Jose Luis Magana/AP

ʼn Man gewapen met rookgranate en ʼn haelgeweer het Donderdag by die kantoor van ʼn koerant in Annapolis, Maryland, in die VSA ingestorm en vier joernaliste en nog ʼn personeellid doodgeskiet.

Die voorval het by die kantoor van The Capital Gazette gebeur. Polisie het kort daarna die gebou binnegestorm en die skieter in hegtenis geneem.

Die skietery kom te midde van maande se verbale en aanlyn aanvalle deur politici oor “fopnuus-media”. In New York City, die land se media-hoofstad, het polisiebeamptes onmiddellik sekuriteit by al die media-instansies se nuuskantore verskerp.

Die polisie het bevestig die skieter is ʼn wit man in sy laat 30’s, maar wou nie onmiddellik sy identiteit bevestig nie. ʼn Wetstoepassingbeampte wat op voorwaarde van anonimiteit met verslaggewers gepraat het, het egter die skieter geïdentifiseer as Jarrod W. Ramos (38). Ramos het in 2012 die koerant en een van sy joernaliste vir laster gedagvaar.

Larry Hogan, goewerneur van Maryland, kom op die toneel aan. (28 Junie 2018) Foto: Susan Walsh/AP

Dit het gekom nadat die koerant ʼn berig gepubliseer het oor Ramos wat van seksuele teistering aangekla is. Die koerant het hofdokumente aangehaal wat stel dat Ramos vir ʼn onbekende vrou talle dreigende e-posse gestuur het, haar kru name genoem het en onder meer vir haar gesê het sy moet haarself doodmaak.

Ramos se klag teen die koerant is later van die hand gewys en die regter het bevind die koerant het geen inligting gepubliseer wat nie waar was nie. Ramos het appèl teen die uitspraak aangeteken en dié is ook van die hand gewys.

William Krampf, waarnemende polisiehoof, het die voorval as “ʼn geteikende aanval” beskryf en gesê die skieter “het vir sy slagoffers gesoek”.

“Hierdie persoon was voorbereid om vandag hierheen te kom en voorbereid om mense te skiet,” het Krampf gesê.

Joernaliste het onder hul lessenaars ingekruip en ander plekke gesoek om weg te kruip toe die skieter die gebou binnegestorm het. Hulle het ná die voorval die angs beskryf om te hoor hoe die skieter se voetstappe naderkom en dan die haelgeweer se skote wat in die nuuskantoor afgaan.

ʼn Polisiebeampte staan wag buite die New York Times se kantoor (28 Junie 2018). Foto: Mary Altaffer/AP

Rob Hiaasen (59), die koerant se assistent-redakteur; Gerald Fischman, redakteur van die redaksionele blad; Wendi Winters, artikelverslaggewer; John McNamara, ʼn joernalis; en Rebecca Smith, ʼn verkoopsassistent, is doodgeskiet. Volgens die koerant het twee ander personeellede nie-lewensbedreigende beserings opgedoen en is later uit die hospitaal ontslaan.

Phil Davis, ʼn hof- en misdaadverslaggewer vir The Capital Gazette, het getwiet die skieter het die glas van die deur na die kantoor stukkend geskiet en toe skote in die nuuskantoor begin afvuur. “Daar is niks meer vreesaanjaend as om te hoor hoe verskeie mense geskiet word terwyl jy onder jou lessenaar wegkruip en dan hoor hoe die skieter herlaai nie,” het hy getwiet. Hy het later in ʼn onderhoud na die nuuskantoor as ʼn “oorlogsone” verwys.

“Ek is ʼn misdaadverslaggewer. Ek skryf oor hierdie goed – nie noodwendig tot hierdie mate nie, maar skietery en sterftes, die heeltyd,” het hy gesê. “Maar soveel soos ek kan probeer beskryf hoe traumaties dit is om onder jou lessenaar weg te kruip as so iets gebeur, kan jy nie weet tot jy dit sélf beleef en jy sélf so hulpeloos voel nie.”

Polisiebeamptes op die toneel buite die kantoor van The Capital Gazette-koerant in Annapolis (28 Junie 2018) Foto: Susan Walsh/AP

Selene San Felice, nog ʼn joernalis, het vertel hoe sy na die agterdeur gehardloop het toe sy die skieter se voetstappe hoor aankom, maar dat die deur gesluit was. Sy het daarna onder ʼn lessenaar gaan wegkruip. “En daar het ek gesit, onder ʼn lessenaar, en vir my ouers ʼn SMS gestuur om te sê ek is lief vir hulle.”

Lt. Ryan Frashure, polisiewoordvoerder, het gesê die polisie was binne minute op die toneel en het die skieter in hegtenis geneem. Ongeveer 170 mense is daarna uit die gebou ontruim terwyl noodvoertuie op die toneel aangekom het.

Anne Arundel, woordvoerder vir die plaaslike owerhede, het gesê ʼn motief vir die skietery is nog nie vasgestel nie, aangesien die skieter nog nie bereid was om enige inligting met die polisie te deel nie.

The Capital Gazette is deel van Capital Gazette Communications, wat ook die Maryland Gazette en CapitalGazette.com publiseer. Dit word besit deur The Baltimore Sun.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Plaaslike koerante ·

Daar is ‘n sekere mediagroep wat baie plaaslike koerante oorgekoop het. Hulle is baie bekend. Hulle verdraai stories baie graag selfs al se jy vir hulle voor publikasie al dat die storie nie waar is nie. Het enigiemand anders dit ook ervaar?

Gerda ·

Interessant hoe daar dadelik berig word dat dit ‘n wit man is. As hy nie was nie, sou niemand gedink het om dit te noem nie. Asof die Liberale Amerikaanse media nie al hard genoeg probeer om wit mans te demoniseer en hulle wapens weg te neem nie, neem MM nou net so lekker aan die speletjie deel.

As die mense in die kantoor net toegelaat was om wapens te dra, sou dit gehelp het. Nou gaan almal weer tekere gaan oor hoe hulle die wapens moet wegvat. Jy weet…dieselfde mense wat nou meer gewapende wagte by hulle kantore het.

jaco ·

Dis darem nie nog ‘n terreuraanval deur iemand wat ‘n paar jaar terug as “poor innocent refugee” in Amerika ingekom het nie. Duidelik werk president Trump se immigrasiebeleid.

Trump bo ·

Trump se beleid maak Amerika n beter plek volgens alle aanwysers, hy is die beste president nog.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.