Foto’s: Vyf sokkerseuns sover uit oorstroomde grot gered

Een van die seuns word na ‘n helikopter gedra. Foto: Big Krean via AP

Vyf seuns van die groep van 12 sokkerspelers en hul afrigter wat sedert 23 Junie in die Tham Luang Nang Non-grot in die Chiang Rai-provinsie in Thailand vasgekeer is, is bevry.

CNN berig die vyfde seun is Maandag omstreeks 12:00 Suid-Afrikaanse tyd uit die grot gered en met ʼn ambulans weggeneem. Dit volg nadat vier van die vasgekeerde seuns Sondag na die oppervlakte gebring en na ʼn hospitaal geneem is.

Plaaslike owerhede het tydens ʼn mediakonferensie gesê die ouers van die seuns wat gered is, is nog nie toegelaat om fisieke kontak met hulle te hê nie aangesien ʼn uitgebreide ondersoek na hul mediese toestand gedoen word en om infeksie te voorkom.

Maroela Media het vroeër berig die reusereddingspoging het Sondag om 10:00 (plaaslike tyd) begin. Dertien duikers en vyf lede van die Thaise vloot het die grot vroegoggend binnegegaan. Die seuns word een op ʼn slag uit die grot begelei.

Die reddingspogings van die sewe oorblywende seuns en hul afrigter duur voort.

Die 12 seuns, tussen 11 en 16 jaar oud, en hul 25-jarige afrigter is langer as twee weke gelede in ʼn grot vasgekeer. Die grot is bekend daarvoor dat dit tydens die reënseisoen oorspoel word. ʼn Kennisgewing by die ingang na die grot, wat ʼn gewilde toeriste-aantreklikheid is, waarsku dat dit gevaarlik is om die grot binne te gaan gedurende die reënseisoen.

Die groep het klaarblyklik dié waarskuwing geïgnoreer en in die grot ingekruip. ʼn Parkbeampte het kort daarna onraad vermoed toe hy ʼn klomp fietse opgemerk het wat by die ingang na die grot staan.

Maroela Media het vroeër berig ʼn voormalige lid van die Thaise vloot en vrywilliger, Samarn Kunan (38), het verlede week gedurende ʼn nagtelike operasie gesterf in ʼn poging om suurstofhouers in die grot te plaas ter voorbereiding vir die reddingspoging.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Adri ·

Ek sien nie die foto’s nie – net die onderskrifte. Sou dit graag wou sien, maar ongelukkig ondervind ek dit die afgelope tyd elke keer wanneer ek Maroela Media se berigte oopmaak. Wat moet ek doen om dit te kan sien?

Sune van Heerden ·

Dagsê Adri

Ons het ‘n verstelling gemaak aan die galery op die betrokke artikel.
Kontak ons asseblief per e-pos by [email protected] as jy nog steeds nie die foto’s kan sien nie.

Dankie!
Groetnis
Suné
nms Maroela Media

Regtig ·

Het hulle geweet wanneer is die REENSEISOEN? Vra nou ‘n 11 jarige of selfs ‘n 25 jarige afrigter in SA wanneer is die reenseisoen en nie een sal jou kan help nie.

Han ·

Ag Here, wees hulle asseblief genade dat almal ongeskonde uit die grot sal kom. Versterk die hande van die reddingspan.

GM ·

Mag hul gou herstel, en die wat nog in die grot is, gou gered word. Ek voel angstig as ek net na die foto’s kyk.

Niklaas ·

Daardie afrigter sal n paar dinge mooi moet verduidelik na die reddings pogings afgehandel is. Hy mag dalks groter probleme hê as wat hy tans besef.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.