Foto’s: Vyf sterf toe helikopter in rivier val

Die toneel waar die helikopter in die East-rivier in New York City geval het (11 Maart 2018). Foto: AP Photo/Andres Kudacki

Vyf mense is dood nadat ʼn helikopter Sondagaand in New York City se East-rivier in die VSA neergestort het.

ʼn Plaaslike polisiewoordvoerder het Maandagoggend bevestig al vyf oorledenes was passasiers aan boord die helikopter. Die vlieënier kon daarin slaag om uit die wrak van die helikopter te kom en is met ʼn sleepboot gered.

Die helikopter, wat ʼn private vlug onderneem het nadat dit gehuur is vir ʼn fotosessie, het naby die Gracie Mansion, die burgemeesterswoning, neergestort. ʼn Video wat deur ʼn omstander geneem en op sosiale media gedeel is, toon hoe die rooi helikopter die water tref en dan omslaan.

Die oorledenes se liggame is deur reddingsduikers van die polisie en die brandweer uit die water gehaal. Volgens Daniel Nigro, die plaaslike brandweerkommissaris, moes die liggame verwyder word waar dit met stewige harnasse in die helikopter vasgemaak was.

Paramedici dra ʼn persoon na ʼn ambulans op die toneel waar die helikopter in die East-rivier geval het (11 Maart 2018). Foto: AP Photo/Jennifer Peltz

“Dit het ʼn ruk geneem vir die duikers om die mense uit te kry. Hulle het so vinnig moontlik gewerk. Dit was ʼn groot tragedie wat hom hier afgespeel het,” het Nigro gesê.

Die wrak van die helikopter is ook tydens die reddingsoperasie uit die rivier gehaal.

Ooggetuies naby die plek waar die helikopter neergestort het, het gesê die helikopter het raserig verbygevlieg voordat dit in die water geval en vinnig onder die oppervlak ingesak het. Die vlieënier het kort daarna bo die water verskyn en het aan ʼn dryftoestel vasgeklou terwyl polisiebote die toneel genader het.

“Dit is koue water. [Die helikopter] het baie vinnig gesink,” het Mary Lee (66) aan die New York Post gesê. “Teen die tyd dat ons daar aangekom het, kon ons dit nie meer sien nie. Dit was reeds onder water.”

Celia Skyvaril (23) het aan die Daily News gesê sy kon sien hoe ʼn mens vasklou aan iets wat soos ʼn dryfbare vlot gelyk het, terwyl hy geskree het om hulp.

Een van die slagoffers word op die toneel deur nooddienswerkers bygestaan (11 Maart 2018). Foto: Xinhua/Li Muzi (srb)

Beeldmateriaal van nuusagentskappe het getoon hoe een van die slagoffers in ʼn ambulans gelaai word terwyl paramedici kardiopulmonêre resussitasie op hom toepas.

ʼn Woordvoerder vir die Federale Lugvaartadministrasie het gesê die Eurocopter AS350-helikopter het net ná 19:00 in die water geval. Die helikopter word besit deur Liberty Helicopters, ʼn maatskappy wat helikopters vir private gebruik bied, asook besigtigingstoere vir toeriste aanbied.

Die oorsaak van die ongeluk is nog nie bekend nie en word ondersoek.

Die lugruim oor New York City is dikwels bedrywig met helikopters wat toeriste, sakelui, verkeersverslaggewers, mediese spanne en ander mense rondvlieg. Ongelukke is nie ongehoord nie.

In 2009 het ʼn besigtigingshelikopter, wat dieselfde model was en deur dieselfde maatskappy besit word, bo die Hudson-rivier met ʼn ligte vliegtuig gebots wat tot die dood van nege mense, onder wie ʼn groep Italiaanse toeriste, gelei het.

In Oktober 2011 is ʼn Britse vrou dood tydens ʼn ongeluk in die East-rivier. Drie ander passasiers is beseer.

In Julie 2007 het ʼn helikopter, met agt passasiers aan boord, in die Hudson-rivier neergestort, maar niemand is beseer nie. In Junie 2005 het twee helikopters in dieselfde week in die East-rivier neergestort. In een van dié ongelukke is agt mense beseer, terwyl ses toeriste en die vlieënier tydens die ander ongeluk beseer is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.