Foto’s: Wegholbrande saai verwoesting in Kalifornië

Vlamme verswelg byna huise in Santa Clarita. (Foto: Marcio Jose Sanchez, AP)

Meer as 50 000 mense is reeds aangesê om hul huise in te ontruim nadat wegholbrande sedert Donderdag verwoesting in die omgewing van Los Angeles in die Amerikaanse deelstaat Kalifornië saai.

Die brande het te midde van sterk wind en warm weerstoestande uitgebreek en het vlamme in die rigting van woonbuurte van Santa Clarita gestuur, waar minstens ses huise reeds in puin gelê is.

Verskeie onderverdelingshuise en plase in die Canyon Country-omgewing van Santa Clarita en in die nabygeleë Castaic het ook reeds deurgeloop.

“Ons weet van minstens ses huise maar die getal kan styg,” sê Kathryn Barger, toesighouer by die Los Angeles County.

In die landelike gebiede rondom die stad het twee huise reeds afgebrand en talle perde, donkies, bokke en ’n vark is inderhaas te hulp gesnel en betyds gered.

Alejandra Corrales moes hulpeloos toekyk hoe haar huis in Canyon Country afbrand.

“Jy begin dink aan al die dinge wat jy nie kan terugkry nie. Alles in die huis is weg. Die panele van een van die hokke waar ons skape aanhou was te warm vir my dogter om oop te maak en sy kon hulle nie uitlaat nie, so ek is seker ons het hulle ook verloor.”

‘n Huis se heining in ligte laaie. (Foto: Christian Monterrosa)

Ander inwoners het verbete probeer om die vlamme met tuinslange op hul eiendom te blus.

Edison in Suid-Kalifornië het gister sowat 31 000 inwoners se elektrisiteit afgeskakel en oorweeg om ’n bykomende 386 000 inwoners se elektrisiteit af te skakel om te voorkom dat die wind takke in die kragdrade waai, wat nóg veldbrande kan veroorsaak.

’n Brand het reeds Woensdag naby Geyserville in die noorde van die Amerikaanse deelstaat uitgebreek en 49 geboue in puin gelê. Sowat 2000 mense is in dié streek aangesê om hul huise te verlaat.

’n Brand in Sonoma het Woensdag 25 km² verwoes wat Pacific Gas & Electric gedwing het om elektrisiteit in die noorde en sentrale Kalifornië te beperk.

Die kragonderbrekings het ʼn halfmiljoen mense – bykans 180 000 verbruikers in 18 provinsies – geraak.

Volgens Keith Stephens, amptenaar van PG&E, is elektrisiteitstoevoer teen Donderdag weer herstel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
jaco

Is die EFF dan in Kalifornië ook?

Ronel

EK BID VIR REEN DAAR.