[Foto’s] Werker 60 uur ná modderstorting in China gered

'n Man word gered nadat hy meer as 60 uur onder die puin van ʼn massiewe modderstorting gelê het. Foto: ANA-Xinhua

‘n Man word gered nadat hy meer as 60 uur onder die puin van ʼn massiewe modderstorting gelê het. Foto: ANA-Xinhua

ʼn Immigrantwerker is Woensdag lewendig gevind nadat hy meer as 60 uur onder die puin van ʼn massiewe modderstorting, wat groot dele van Shenzhen in suidelike China getref het, vasgekeer was.

Rao Liangzhong, ʼn woordvoerder van die Shenzhen noodreaksie-eenheid, het gesê die man, Tian Zeming, is in die vroeë oggendure gered. Zeming is van Chongqing in suidwestelike China afkomstig.

“Die oorlewende se stem en pols was baie swak toe hy gevind is en hy ontvang nou mediese behandeling,” het Liangzhong gesê.

Toe Zeming gevind is, was hy in staat om reddingswerkers sy naam te gee en het gesê daar is nog iemand onder die puin nie ver van hom af nie. Reddingswerkers het die tweede persoon gesoek en hom gevind, maar hy was reeds dood.

Meer as 70 mense is as vermis aangemeld sedert die modderstorting Sondag plaasgevind het toe ʼn berg konstruksie-afval, boumateriaal en modder ingegee het en in die industriële park van Shenzhen ingevloei het.

Die minister van grond en hulpbronne het gesê die mensgemaakte berg van modder, sementstukke en ander konstruksiemateriaal is oor die afgelope twee jaar tot 100 meter hoog opgestapel. Swaar reën het die grond versadig wat die berg swaar en onstabiel gelaat het en uiteindelik daartoe gelei het dat dit met ʼn massiewe krag ingetuimel het.

Plaaslike media het berig die plaaslike regering van New Guangming het reeds maande gelede gewaarsku dat die grond van die “berg” nie stabiel is nie en ʼn “katastrofe” kan veroorsaak.

Shenzhen is ʼn produksiekern in China en enige iets van selfone tot motors word in dié stad vervaardig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.