Foutiewe koppeling glo oorsaak van Pakistan-treinongeluk

Inwoners van nabygeleë dorpe was ná die ongeluk eerste op die toneel om te help (Foto: Shahid Ali, AFP)

ʼn Trein wat ontspoor het in die pad van ʼn aankomende passasierstrein, het sy reis begin met ʼn foutiewe treinwa-koppeling, het Pakistan se minister van spoorweë Woensdag gesê. Owerhede stel nog steeds ondersoek in na die oorsaak van die ongeluk wat 63 mense se lewens geëis het. Die ouderdomme van die slagoffers wissel van ’n enkele maande oue baba tot ’n 81-jarige vrou.

Die Sir Syed Express-passasierstrein het Maandag deur treinwaens van die Millat Express geploeg toe hy minute vroeër naby Daharki in die Sindh-provinsie ontspoor het.

Die ongeluk het weer ʼn debat ontketen oor die haglike toestand van Pakistan se openbare vervoerstelsel – veral ʼn spoorwegnetwerk wat al dekades lank nie behoorlik in stand gehou word nie.

“Die bufferkoppeling van wa nommer 10 van Millat Express was foutief en daar was ook los boute wat tot die ontsporing gelei het,” het minister Azam Swati tydens ʼn perskonferensie in Lahore gese. Die bufferkoppeling verbind die treinwaens aan mekaar.

Swati blameer die ongeluk op verouderde toerusting – waarvan sommige meer as 50 jaar oud is – en versoek grootskaalse beleggings in die land se spoorweginfrastruktuur.

“Ons is ʼn arm land en ons het nie eers nuwe tegnologie om die treinwaens oor te doen nie,” het hy gesê. Volgens hom “gebruik die tegnici nog hamers”.

Swati het gesê sowat 22 senior- en juniorvlak beamptes is tot ʼn mate verantwoordelik vir ʼn rits foute wat tot die ongeluk gelei het en “stappe sal gedoen word”.

Die meeste sterftes het plaasgevind weens die botsing tussen die twee treine eerder as die ontsporing. Die voorval het net voor dagbreek op ʼn afgeleë deel van die spoor plaasgevind wat deur landerye omring word. Terwyl plaaslike inwoners hulle na die toneel gehaas het, het dit ure geduur voor spesialis-toerusting opgedaag het om mense uit die wrakke te bevry.

Die grootste deel van Pakistan se treinpassasiers is werkersklasmense wat nie busvervoer kan bekostig nie.

In 1990 is meer as 300 mense dood en 700 beseer toe ʼn oorlaaide trein teen ʼn stilstaande vragtrein gebots het naby Sukkur in Sindh. In Oktober 2018 is 75 mense dood toe ʼn trein aan die brand geslaan het wat van Karachi na Rawalpindi op pad was.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.