Fox News in die hof oor $1,6 miljard-lastersaak

Fox News (Foto: Fox News/Twitter)

ʼn Groot hofsaak begin Dinsdag teen Fox News wat ʼn toets sal wees vir die omvang van vryheid van spraak vir media in Amerika – selfs wanneer beweerde verkiesingsonwaarhede uitgesaai word.

Dominion Voting Systems dagvaar Fox News vir $1,6 miljard, met die aantyging dat die konserwatiewe netwerk Donald Trump se “grondelose bewering bevorder het dat sy masjiene gebruik is om die 2020- presidensiële verkiesing (wat hy teen Joe Biden verloor het) te manipuleer”.

Dominion voer aan dat Fox News “die leuens uitgesaai het terwyl hulle geweet het dat dit onwaar was”.

Die hoogs verwagte saak, wat vir ʼn dag lank uitgestel is te midde van berigte dat die netwerk moontlik wil skik, kan een van die lastersake word wat die meeste gevolge dra wat nog ooit in die VSA aangehoor is.

Juriekeuring het omstreeks 09:00 (1300 GMT) binne die hoogste hof in Delaware in Wilmington hervat, met openingsargumente wat deur die loop van die dag verwag word.

Verslaggewers en lede van die publiek het in ʼn lang ry buite die hof gestaan en wag om in te gaan. Een betoger, teen Fox News, het ‘n bord omhoog gehou met die woorde “Fox is skuldig” en “Laat hulle betaal”.

Die saak hou moontlik finansiële skade en skade aan sy beeld in vir Rupert Murdoch se 24-uur-nuusreus. Murdoch sal na verwagting self ook geroep word om te getuig.

Dominion sê die netwerk het begin om Trump se sameswering te bevorder omdat die kanaal sy gehoor verloor het toe dit die eerste televisiekanaal geword het wat die staat Arizona in Biden se guns verklaar het, wat effektief dié Demokraat as die wenner van die presidentskap sou voorspel het.

Fox News ontken laster. Die organisasie voer aan hy het slegs oor Trump se bewerings berig en dit nie self ondersteun nie. Fox News voer ook aan hy word beskerm deur vryheid van spraak wat in die Amerikaanse Grondwet vervat is.

Dié beskerming maak dit moeilik vir eisers om lastersake in die VSA te wen.

In voorverhoorverrigtinge het die Delaware-regter Eric Davis beslis dat daar geen vraag is of Fox valse verklarings oor Dominion uitgesaai het nie.

Vir Dominion om die saak te wen, sal hy egter moet bewys dat Fox News met werklike kwaadwilligheid opgetree het, ʼn moeilike saak om te bewys en ʼn hoeksteen van die Amerikaanse mediareg sedert 1964.

Dominion se saak was oënskynlik reeds vir Fox ʼn verleentheid. Die Wall Street Journal, wat ook aan Murdoch behoort, het berig die kanaal het reeds maniere ondersoek om die saak te skik.

ʼn Skikking sou beteken dat die 92-jarige Murdoch en ster-aanbieders, soos Tucker Carlson, nie in die hof hoef te getuig nie.

Murdoch het in ʼn getuienis in die saak erken dat sommige aanbieders op die lug die valse bewerings dat die 2020-verkiesing van Trump gesteel is, “ondersteun” het. Volgens hofdokumente wat Dominion in Februarie ingedien het, het Murdoch egter ontken dat die kanaal in sy geheel die leuen bevorder het.

ʼn Aparte hofstuk het gewys dat Murdoch kommentaar deur voormalige Trump-adviseurs Rudy Giuliani en Sidney Powell, wat Trump se bewerings ondersteun, beskryf het as “werklike mal dinge. En skadelik”.

Dominion se prokureurs het ook ʼn rits interne kommunikasie van Fox News vrygestel waarin sommige kommentators hul afkeer in Trump uitgespreek het, hoewel hulle hom op die lug geprys het.

“Ek haat hom hartstogtelik,” het Carlson van die voormalige president gesê ná hy die verkiesing verloor het.

Fox News het Dominion daarvan beskuldig dat hulle “kieskeurig is en aanhalings uit konteks aanhaal”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.