Fox News skik in lastersaak

Fox News (Foto: Fox News/Twitter)

Fox News het Dinsdag ’n skikking van $787,5 miljoen (meer as R14 miljard) bereik in ’n massiewe lastersaak wat deur die stemtegnologiemaatskappy Dominion Voting Systems aanhangig gemaak is.

Deur met dié maatskappy te skik het Fox News en sy eienaar, Rupert Murdoch, die moontlikheid vrygespring om in ’n openbare hof te getuig – en verskeie kenners het voorspel dat dit ʼn uitgerekte, hoëprofielsaak sou wees.

Die maatskappy het Fox News vir $1,6 miljard gedagvaar en aangevoer dat die konserwatiewe netwerk Donald Trump se “grondelose bewering” bevorder het dat die maatskappy se toerusting gebruik is om die presidentsverkiesing van 2020 (wat Trump teen Joe Biden verloor het) te manipuleer.

Dominion voer aan dat Fox News leuens uitgesaai het, wetend dat dit onwaar is. Fox News het vroeër ontken dat hy skuldig is aan laster en het aangevoer dat hy slegs oor Trump se bewerings berig het, en dit nie self ondersteun nie. Die netwerk het ook gesê hy word deur vryheid van spraak beskerm soos in die Amerikaanse grondwet vervat.

Fox News erken egter nou dat sommige inligting wel verkeerd was.

Regter Eric Davis het die ooreenkoms ter elfder ure aangekondig nadat 12 jurielede reeds gekies en die hooggeregshof in Delaware gereed was om openingsbetoë aan te hoor.

Fox News het na afloop van die skikking gesê hy is “verheug” dat die dispuut nou ʼn einde bereik het.

“Ons erken die hof se beslissings wat bevind het dat sekere aansprake oor Dominion vals is,” het die netwerk in ʼn verklaring gesê.

John Poulos, uitvoerende hoof van Dominion, het aan verlsaggewers buite die hof gesê dat niks egter ooit vir die skade kan vergoed wat Fox News aangerig het nie.

“Fox het erken hy het leuens oor Dominion vertel het wat enorme skade aan my maatskappy, ons werknemers en kliënte aangerig het.

“Niks kan ooit daarvoor vergoed nie.”

Die verrigtinge, wat deur The New York Times as “die lasterverhoor van die eeu” gedoop is, sou volgens berigte die grense van mediavryheid in die VSA toets met betrekking tot verkeerde inligting wat na bewering doelbewus uitgesaai word.

Ontleders het voorspel dat die saak moontlik een van die lasterverhore met die meeste gevolgskade in Amerikaanse geskiedenis sou wees.

Die skikking beteken ook dat gewilde Fox News-aanbieders soos Tucker Carlson en Sean Hannity ook nie die gevaar loop om in die getuiebank te verskyn nie.

Die presiese voorwaardes van die ooreenkoms is nog onbekend. Luidens Amerikaanse nuusberigte lyk dit egter nie of daar van Fox News-aanbieders verwag sal word om op die lug om verskoning te vra en te erken dat hulle valshede versprei het nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Nommer 7 ·

Noudat Fox News erken het dat hul eerder Faux News is, kan Trump se Truth Social nou seker beskou word as Fake Social. Gaan Trump nog toesprake hou? As hy nie kan jok nie het hy niks om te se^ nie.

Mike ·

Dalk moet jy meer Fox nuus volg om te besef hoe die media werklik lieg vir ons. Fox is 100% beter as cnn, mnsbc, cbs en ons eie news24 wat cnn se vals nuus in SA versprei

andre ·

Die hof het bevind dat sekere aansprake oor Dominion vals was ,volgens die berig hierbo

Nommer 7 ·

Sover bekend is nog geen ander nuusmaatskappy gedagvaar nie. Tot dan is Fox dan die enigste.

Hercules ·

CNN lewer gereeld onwaar nuus. Hulle kom net weg met dit omdat die ver linkse groepe die geld verskaf.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.