Frank Sinatra Jr. sterf op 72

Frank Sinatra Jr. Foto: wikipedia.org

Frank Sinatra Jr. Foto: wikipedia.org

Frank Sinatra Jr., die seun van wyle Frank Sinatra, is Woensdag dood in die ouderdom van 72.

Volgens sy familie was die sanger en akteur glo op toer in Daytona Beach, Florida, toe hy dood is aan ʼn hartaanval.

Sinatra was een van drie kinders van Frank en Nancy Sinatra. Sinatra Jr. se ouer suster, Nancy, het ʼn suksesvolle sangloopbaan gehad en sy jonger suster, Tina, het ʼn loopbaan as televisie-regisseur gevolg.

Sinatra is in 1944 gebrore in Jersey City, New Jersey, toe sy pa pas bekendheid begin verwerf het as sanger. Hoewel hy nie aanvanklik self gesing het nie, was hy as jong seun sy pa se musiekregisseur en dirigent. Sy pa is in 1998 in die ouderdom van 82 oorlede.

Hoewel hy ook ʼn sanger in eie reg was, is Sinatra veral bekend vir sy Las Vegas-optredes “Sedert my pa se dood het ʼn klomp mense dit duidelik gemaak dat hulle nie gereed is om sy gewilde musiek prys te gee nie,” het Sinatra in 2002 gesê. “Vir my is dit ʼn groot geskenk. Ek kry die geleentheid om musiek te sing wat nooit sal verouder nie en waarmee hy onthou kan word.”

Sinatra Jr. is ook bekend vir sy akteursvernuf, veral vir sy rol in die televisiereeks The Love Boat.

Op 19-jarige ouderdom is Sinatra Jr. deur drie mans ontvoer en ná twee dae veilig aan sy ouers terugbesorg nadat hulle ʼn losprys van $240 000 betaal het.

Barry Keenan, ‘n hoërskoolvriend van Nancy Sinatra, is kort daarna in hegtenis geneem saam met nog twee verdagtes, Johnny Irwin en Joe Amsler. Hulle is skuldig bevind aan sameswering en ontvoering.

Sinatra Jr. word oorleef deur sy seun, Michael.

Bron: The Guardian

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.