Frankryk kondig beperkings vir oningeëntes aan

Pres. Emmanuel Macron van Frankryk (Foto: Ludovic MARIN / AFP)

’n Rekordgetal mense in Frankryk het nou afsprake gemaak om hulle teen Covid-19 te laat inent nadat die Franse president, Emmanuel Macron, Maandagaand sekere beperkings op mense wat nie ingeënt is nie, aangekondig het. Dit sluit onder meer in verpligte Covid-19-toetse om ’n restaurant te kan besoek.

Macron het aangekondig dat enigiemand wat vanaf Augustus wil gaan uiteet, ’n drankie wil gaan drink, met ’n langafstandtrein wil ry of ’n winkelsentrum wil besoek, ’n sogenaamde “gesondheidspaspoort” sal moet kan toon. Franse wat nie ʼn gesondheidspaspoort kan toon nie, sal bewys moet lewer dat hulle onlangs negatief vir Covid-19 getoets het.

Franse burgers sal ook die gesondheidspaspoort vir sosiale geleenthede soos die bywoon van feeste en teatervertonings of ’n besoek aan die fliekteater byderhand moet hou.

Dít terwyl gratis Covid-19-toetse in September gestaak sal word “om inenting aan te moedig in plaas daarvan om baie toetse uit te voer,” het Macron gesê.

Sowat 20 000 afsprake per minuut is tydens die Franse president se aankondiging gemaak – ’n rekordgetal afsprake sedert die aanvang van Frankryk se inentingsveldtog, sê Stanislas Niox-Chateau, hoof van Doctolib – die webtuiste waarop afsprake vir onder meer inenting gemaak word.

Altesaam 926 000 mense het intussen hul afspraak op die webwerf gemaak, van wie 65% onder die ouderdom van 35 is.

Die afgekondigde maatreëls het egter hewige kritiek op sosiale media uitgelok, met die Franse woord vir diktatuur – #Dictature – wat gereeld gebruik is.

’n Ou twiet van Macron wat hy in Desember verlede jaar geplaas het en wat lui dat die entstof “nie verpligtend sal wees nie” word ook wyd gedeel.

Duitsers volg nie Franse se voorbeeld

Die Duitse kanselier, Angela Merkel, het Dinsdag gesê Duitsland is nie van plan om Frankryk en ander lande se voorbeeld met die instelling van verpligte Covid-19-inentings te volg nie.

“Ons is nie van plan om daardie roete te gaan nie,” het Merkel in Berlyn gesê.

“Ons is aan die begin van die fase waarin ons nog steeds mense aanmoedig om te laat inent en ons meer [dosisse] het as mense wat ingeënt wil word.”

Duitsland het teen Dinsdag 42,6% van sy volwassenes volledig ingeënt, met 58,5% van die bevolking wat ten minste al een dosis ontvang het.

Die vraag na die entstof het egter die afgelope twee weke afgeneem en Duitsland het Maandag die minste mense nog sedert Februarie ingeënt.

Merkel het vandag gesê sy glo nie die Duitse regering gaan “vertroue inboesem” deur ’n soortgelyke benadering as Frankryk te volg nie.

“Ek dink ons ​​kan vertroue inboesem deur inenting te bemark en ook deur soveel mense as moontlik in die bevolking ambassadeurs vir die entstof te laat word weens hul eie ervaring met die entstof.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Tiptol ·

Gesondheids paspoort. Net nog ‘n geleentheid vir korrupsie in ons land.

Adriaan ·

Mense wat gesondheidspaspoorte voorspel het, is stilgemaak met die woorde dat dit n samesweringsteorie is. Maar hier gebeur dit nou. Hoeveel ander samesweringsteorieë gaan nog bewys word as die waarheid?

Hendrik Marthinus ·

Vra dit weer Kobie
Stem nie saam Macron nie
Maar jy is reg hierdie virus mask miljoene wereldwyd dood

Hennie ·

Uitstekende idee. Dit gaan ‘n wêreldwye vereiste word, soos Geelkoors…. Viva le France….

gehasie ·

Optrede ietwat drakonies en oortuig of bevorder nie menseregte nie!

Kokerboom ·

Dis nou absurd. Wat as bestaande inenting NIE weerstand bied teen toekomstige variante of natuurlike immunstelsel waarmee GOD ons geskape het vernietig?
Dit begin nou ‘n absolute klug word veral as dit in lande soos SA toegepas gaan word waar regeerders nie eers woord diskresie verstaan?Tyd sal leer

quartus ·

hou nou fyn dop hoe die plaaslike klompie hierdie voorbeeld gaan volg ( maar hulle sal waarsskynlik so paar ekstra beperkings bedink)

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.