Frankryk ontplooi 40 000 beamptes oor opstande

Die 17-jarige slagoffer is Dinsdag (27 Junie 2023) doodgeskiet. (Foto: Maurizio Orlando/Hans Lucas/AFP)

Duisende polisiebeamptes is in Frankryk ontplooi weens voortslepende betogings wat die land in ʼn wurggreep het.

Franse het in groot getalle begin opruk nadat ʼn polisiebeampte ʼn tienerseun Dinsdag doodgeskiet het nadat hy glo van ʼn verkeersbeheerpunt buite Parys probeer vlug het.

Die 17-jarige slagoffer, wat net as Nahel geïdentifiseer word, het vroeg Dinsdag in ʼn huurmotor in die woonbuurt Nanterre gery toe die polisie hom voorgekeer het. Hy het glo verskeie padreëls oortree.

Beeldmateriaal wat versprei word, wys hoe twee beamptes probeer om die voertuig voor te keer, waarna een van hulle sy wapen uithaal en dit deur die venster op die bestuurder rig. Die beampte trek die sneller nes die bestuurder wegry. Die motor kom ʼn paar meter verder tot stilstand wanneer dit in ʼn botsing betrokke is.

Nooddienswerkers het die tiener op die toneel probeer bybring, maar hy is kort daarna dood verklaar.

Twee ander mense was ook in die voertuig tydens die voorval. Een van die passasiers het gevlug, terwyl die ander persoon, ook ʼn minderjarige, in hegtenis geneem is.

Volgens die aanklaerskantoor in Nanterre is die beampte wat van die skietery beskuldig word, kort ná die voorval in hegtenis geneem. ʼn Saak van strafbare manslag word ondersoek.

Betogers het vuurwerke op die onlustepolisie afgevuur, wat in reaksie blitsbalprojektiele afgevuur het. (Foto: Zakaria Abdelkafi/AFP)

Later dieselfde dag het betogings in Nanterre opgevlam met voertuie wat aan die brand gesteek is en bushaltes wat verwoes is. Polisiestasies, skole en stadsale het ook deurgeloop.

Die betogings het oornag na ander dele van die land versprei. Betogers het in ʼn stadium selfs vuurwerke op lede van die onlustepolisie afgevuur, wat in reaksie blitsbalprojektiele afgevuur het. ʼn Tremspoorlyn in ʼn voorstad van Parys is ook aan die brand gesteek.

“Ons is moeg daarvoor om so behandel te word. Dit is vir Nahel; ons is Nahel,” het twee jong mans gesê. Dié twee, soos vele ander, noem hulself “wraaksoekers” en was deel van die betogers wat ʼn brandende versperring in die hoofstad opgerig het.

Verskeie paaie in en om Parys word steeds deur betogers versper met graffiti op mure wat lees: “Geregtigheid vir Nahel” en “polisie moor”.

Altesame 150 betogers is reeds in hegtenis geneem.

Gerald Darmanin, minister van binnelandse sake, sê 40 000 polisiebeamptes behoort Donderdag oor Frankryk ontplooi te word om te help om die voortslepede onluste te bestuur.

Sowat 5 000 van hierdie beamptes sal in en om Parys diens doen.

Onluste ‘onregverdigbaar’

Pres. Emmanuel Macron sê die betogings en skade wat aan infrastruktuur aangerig is, is “onregverdigbaar”. Macron het tydens ʼn krisisvergadering van ministers gesê dat dié tyd, en die vreedsame optog wat ter nagedagtenis van Nahel in Nanterre gereël is, deur “oordenking en respek” gekenmerk moet word.

Pascal Prache, staatsaanklaer in Nanterre, het intussen gesê die betrokke polisiebeampte se gebruik van sy vuurwapen “het nie aan die wetlike voorskrifte voldoen waarvolgens sodanige geweld gebruik kan word nie”.

Die beampte sal Donderdag in die hof verskyn. Die staat gaan ook vra dat hy agter tralies bly.

Die polisie het intussen ook ʼn oproep om kalmte gedoen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Hendrik ·

As jy nie stop as die polisie jou voorkeer nie, soek jy mos vir moeilikheid. Wat laat mense deesdae dink hulle kan net doen wat hulle wil? Frankryk en veral die VSA is nou nie juis bekend vir korrupte polisie soos wat SA is nie. Hy het geen wettige rede gehad om nie te stop nie.

LANA is ELANè ·

Hulle sit dalk met dieselfde probleem as ons in, veral PTA, met die sg metro polisie.

efjy ·

Kon hulle nie maar net die voertuig se bande stukkend geskiet het nie. Om die doodstraf op te le vir ‘n paar verkeers oortredings was erg.

Truth2bfree ·

Polisie is uiters streng in Europa. Ek was in Switzerland voorgekeer toe ek oor ‘n zebrastreep ry.
Die flitsende robort het eintlik STOP en nie net passop beteken nie.
Let wel daar was geen voetgangers.
Toe hul my aftrek en ek my motordeur oopswaai om te verduidelik, toe pluk die verkeersbeampte sy geweer uit!
Ek het my wit geskrik. Baie intemiderend.
Dat iemand nog kans vat en probeer wegjaag – nee kyk dis op eie risiko.

LANA is ELANè ·

En binnekort gaan dit ook in ñ totalitarismiese staat soos in Kanada wees tydens die boere se vreedsame optog, waarin die regering mense se toegang tot hulle eie geld verhoed het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.