Frankryk rou ná vyf in reddingshelikopter sterf

Die bergagtige gebied in die Franse Alpe waar die helikopter neergestort het. (Foto: Jean-Philippe Ksiazek/AFP)

Franse ondersoekers was Woensdag besig met hul ondersoek na die rede waarom ʼn bergreddingshelikopter op ʼn opleidingsvlug in die Alpe neergestort het. Vyf mense het in die voorval omgekom en die enigste oorlewende is ernstig beseer.

Die helikopter, ʼn Airbus EC135 wat deur ʼn private maatskappy bedryf word, het Dinsdagaand naby die dorp Bonvillard, net buite Albertville, een van die grootste oorde in die Franse Alpe, neergestort.

Pascal Bolot, ʼn topamptenaar in die streek, het gesê van die ses mense aan boord het net die vluginstrukteur oorleef.

Aanvanklike berigte het gesê die vlieënier het die ongeluk oorleef, maar dit is onduidelik of die instrukteur self – of ʼn ander vlieënier – in beheer van die helikopterkontrole was toe dit neergestort het.

Ten spyte van die gure weer en digte mis op die ongelukstoneel is die oorlewende na ʼn hospitaal geneem. Bolot sê die instrukteur het self die noodoproep uitgestuur.

Volgens hom word ʼn ondersoek deur Albertville se aanklaer gelei, maar Bolot het geen verduideliking gegee hoekom die helikopter neergestort het nie.

Weersomstandighede is as “moeilik” bestempel en die sneeu lê tot 40 cm diep.

Land rou

‘n Helikopter van die Franse polisie staan op ‘n vliegveld in die Franse Alpe. (Foto: Jean-Philippe Ksiazek/AFP)

Die Franse minister van binnelandse sake, Gerald Darmanin, sou die toneel Woensdag besoek het, maar die besoek is tot Donderdag uitgestel. Nog lugvaartondersoekers word ook binnekort op die toneel verwag.

Twee van die slagoffers was lede van ʼn spesiale bergpolisiëringseenheid vir die Alpe, ʼn 45-jarige kaptein en ʼn 39-jarige brigadier, wat aan die opleidingsoefening deelgeneem het, het die Franse polisie op Twitter gesê.

Die ander drie slagoffers was, soos die instrukteur, verbonde aan die private maatskappy wat die helikopter bedryf.

“Hulle sou enige gevaar trotseer om lewens te red,” het Frankryk se pres. Emmanuel Macron in ʼn twiet gesê.

Hy het ook hulde gebring aan die oorledenes en die slagoffer wat steeds om sy lewe veg.

“Hulle het nie dieselfde uniform gedra nie, maar het dieselfde toewyding gehad: Om lewens te red,” het eerste minister Jean Castex gesê.

“Hul dood dompel die hele land in rou.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

JohanR ·

Het in Rhodesie in 1977 in die mag ‘n helikopter sien neerstort wat sy agter rotor verloor het. Hy het probeer inkom om te land soos ‘n vliegtuig maar toe sy wiele op die landings baan val en hy begin rol, het hy begin om regs op te trek en toe die grond ingeploeg. Almal om die veld was verheeg dat 7 manne uit die heli lewend geklim het met net een wat se rug seergekry het. Nie ‘n lekker gesig om te aanskou nie soos daai helicopter opbreuk, en grond vlieg oorals. Baie tragiese ongeluk in die Alpe. Daar kan soe baie verkeerd gaan met ‘n heli. Hy het maar net daai groot rotor, en die klein stert rotor wat hom in die lug hou.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.