Franse maatskappy skuldig ná sterftes weens gewigsverliespille

Argieffoto (Foto: Ajale/Pixabay)

ʼn Franse hof het Maandag die farmaseutiese reus Servier skuldig bevind aan verswarende bedrog en onwillekeurige strafbare manslag ná honderde sterftes weens sy diabetes- en gewigsverliespil. Dit is een van Frankryk se grootste gesondheidsorgskandale.

Die middel Mediator was 33 jaar lank op die mark en is deur sowat 5 miljoen mense gebruik voor dit in 2009 herroep is toe dit met ernstige hartprobleme verbind is – meer as ʼn dekade ná kommer vir die eerste keer aangemeld is.

Die maatskappy “het mense se vertroue in die gesondheidsorgstelsel verswak”, het regter Sylvie Daunis tydens haar uitspraak gesê. “Alhoewel hulle jare lank bewus was van die risiko’s, het hulle nooit die nodige maatreëls getref nie.”

Servier het “doelbewus verbruikers mislei”, het sy gesê die maatskappy met €2,7 miljoen (sowat R47,6 miljoen) beboet. Die maatskappy moet miljoene euro in skadevergoeding betaal aan meer as 6 500 klaers.

Die Mediator-skandaal het die advertensiemag van groot farmaseutiese maatskappye in Frankryk onthul. Servier het sy invloed uitgeoefen op kenners in staatsgesondheidowerhede, van wie sommige op sy salarisrol was.

Servier se voormalige adjunkhoof, Jean-Philippe Seta, die regterhandman vir die wyle voorsitter Jacques Servier, is ʼn opgeskorte vonnis van vier jaar opgelê en ʼn boete van €90 600. Hy moet ook miljoene euro in skadevergoeding betaal.

Vier ander voormalige uitvoerende hoofde in die farmaseutiese bedryf en gesondheidskenners is ook opgeskorte vonnisse opgelê vir konflik van belange.

Die Franse medisyne-agentskap ANSM is intussen €303 000 (sowat R5,3 miljoen) opgelê vir sy vertraging om die gebruik van die middel op te skort, ondanks herhaaldelike waarskuwings oor die newe-effekte. ANSM het beken dat hy in sy taak versuim het en sal nie appèl aanteken teen die klagtes nie.

Mediator is aanvanklik bedoel vir oorgewig mense met diabetes, maar is wyd voorgeskryf aan gesonde persone as ʼn aptyt-onderdrukker.

Die middel is in 1999 vir die eerste keer verbind met skade aan hartkleppe.

Servier het egter aangevoer hy het nie geweet die middel hou ʼn ernstige risiko in tot dit in 2009 herroep is nie. In daardie stadium was Mediator reeds onwettig in die VSA, Spanje en Italië.

Sowat 500 mense het gesterf, vermoedelik weens gebruik van die middel. Kundiges sê egter dit kan tot soveel as 2 100 sterftes wees.

Talle van die slagoffers wat tydens die hofsaak teen die einde van 2019 en vroeg in 2020 getuig het, was vroue wat só uitgeput was, dat hulle bly sit het toe hulle getuig het. “Die middel was ongelooflik. Ek het die eerste maand 10 kg verloor,” het een getuie, Stephanie, gesê. Sy het drie jaar lank die middel gebruik voor sy in 2009 met ʼn hartsiekte gediagnoseer is.

Meer as 6 500 klaers, insluitend Frankryk se mediese fondse, eis €1 miljard in skadevergoeding van Servier.

Duisende het reeds buite die hof met Servier geskik ten bedrae van nagenoeg €200 miljoen, aldus die maatskappy.

Die Mediator-kwessie was die onderwerp van die 2016 Franse fliek 150 Milligrams, oor die werk van longspesialis Irene Frachon wat instrumenteel was om die risiko’s van die middel uit te lig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Nell ·

“As long as greed is stronger than compassion, there will always be suffering”. – Anon

Elize ·

Wanneer gaan mense besef dat die enigste middel teen gewigsverlies selfbeheersing is?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.