Franse mode-ontwerper Pierre Cardin sterf

Pierre Cardin in 2019 (Foto: Bertramd Guay, AFP)

Die befaamde Franse modeontwerper Pierre Cardin is Dinsdag in ʼn hospitaal in Neuilly, in die weste van Parys, in die ouderdom van 98 dood.

Cardin was bekend vir sy visioenêre modeskeppings.

Sy familie het in ʼn verklaring gesê dit is ʼn baie hartseer dag.

“Daar is nie meer ʼn Pierre Cardin nie,” lui die verklaring.

Cardin is in 1922 in ʼn behoeftige gesin naby Venesië in die noorde van Italië gebore. Sy gesin het toe hy nog ʼn kind was na Frankryk geëmigreer. Dit is hier waar hy sy wortels as Franse mode-superster geplant het.

Hy het grootgeword in die Franse nywerheidstad Saint Etienne en was op 17-jarige ouderdom ʼn vakleerling by ’n kleremaker in Vichy wat in vrouepakke spesialiseer het.

Hy het in 1947 na Parys verhuis waar hy die betowerende stel en kostuums vir die film Beauty and the Beast ontwerp het. Daar het hy saam met die digter, kunstenaar en regisseur Jean Cocteau gewerk.

Hy het reeds in 1950 sy eie mode-etiket op die been gebring. Cardin het vinnig naam as ʼn innoverende mode-ontwerper gemaak en die legendariese “bubble dress” in 1954 geskep.

Hy het ook kommersieel grense verskuif.

Sy “Ruimte-eeu”-versameling van 1964 bly ʼn baken in die mode-geskiedenis met sy uitgesnyde rokke, gebreide katpakke, stywe leerbroeke, noupassende helms en sogenaamde vlermuismou-truie.

Sy modehuis was baie prominent  in Japan en hy het ook in 1978 ʼn produksie-ooreenkoms met die Sowjetunie aangegaan. Hy word die eerste Franse ontwerper wat in 1979 bande met China smee.

Cardin was ook die eerste ontwerper wat in 1991 ʼn modevertoning op die Rooiplein in Moskou gehou het en ʼn skare van sowat 200 000 mense gelok het.

Sy familie het hom geloof en vertel hoe hy “vroeg in die stroom van globalisering” ingespring het.

Die baie bekende Cardin-handelsnaam het later tekens van agteruitgang begin toon en die mode-etiket is in 2011 te koop aangebied. Dit het egter nie verkoop nie.

“Ons is almal trots op sy ambisie en die waagmoed wat hy sy hele lewe lank aan die dag gelê het,” lui sy familie se verklaring.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.